Kliniese Blou Bulle oorrompel Cheetahs in tweede helfte
’n Kliniese vertoning in die tweede helfte het die Blou Bulle Saterdagaand op Loftus Versfeld gehelp om ‘n bonuspunt oorwinning teen die Cheetahs te behaal.
Die Blou Bulle het, na ‘n harde en gelykopstryd in die eerste helfte, drie onbeantwoorde drieë gaan druk in die tweede helfte om die Cheetahs Saterdag op Loftus Versfeld met 40-12 te klop.
Jake White se manne het puik begin en toe Emrose Papier na slegs sewe minute se spel agter die pale druk, na ‘n puik kleinkantjie-beweging, wou dit amper lyk of dit ‘n maklike wedstryd gaan wees vir Duane Vermeulen en sy makkers.
‘n Mens vergeet egter soms dat die Cheetahs nie ‘n span is wat sommer wegraak in enige wedstryd nie. Hulle het enige twyfelaar sommer voor rustyd nog aan hierdie feit herinner.
Die Cheetahs se strategie was duidelik om die afbreekpunte met mening te teiken en dan ook met taktiese skopwerk die Bulle tot foute te probeer dwing.
Daarby het Marcell van der Merwe, wat deur Jake White ‘n kans in die beginspan gegee is vir hierdie wedstryd, erg gesukkel in die vaste skrums. Hierdie feit was waarskynlik die hoofrede waarom die Cheetahs voor rustyd genoeg momentum kon kry om na ‘n skrum te gaan druk, terwyl Frans Steyn se skopskoen hulle ook gehelp het om teen die breuk die telborg op 13-elk te kon laat staan.
Dit was egter ‘n wedstryd van twee helftes, want kort na rustyd het die tuisspan ‘n behoorlike greep op die verloop van sake gekry.
Puik dryfspel het aan Marco van Staden sy eerste drie besorg en toe Morne Steyn daarna nog twee strafdoele oorklits, was die Blou Bulle in beheer en die Vrystaters moes die telbord begin jaag. Dié situasie het uiteraard ekstra druk op die Cheetahs geplaas en die Blou Bulle kon daarin slaag om dit uit te buit.
Toe die Cheetahs dus begin kanse vat, het die tuisspan kalm gebly en die laaste twee drieë het gekom nadat die Bulls op hul teenstanders se foute kon teer.
Hierdie oorwinning sal beslis ‘n groot hupstoot wees vir die Blou Bulle se selfvertroue in die res van die toernooi, waarin hulle die meerderheid wedstryde weg van die huis gaan speel.
As Marcel van der Merwe se gesukkel in die skrums uitgesorteer kan word, het die Bulle bittermin swakplekke oor en hulle sal regtig moet droogmaak om nié die Curriebeker finaal te haal nie.
PUNTEMAKERS:
BULLS: 33 Drieë: Embrose Papier, Marco van Staden (2), Chris Smith. Doelskoppe: Morné Steyn (2), Chris Smith (2) Strafdoele: Morné Steyn (4)
LIONS: 13 Drieë: Reynard Fortuin. Doelskoppe: Frans Steyn (1), Strafdoele: Frans Steyn (2)
Skeidsregter: Jaco Peyper
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram





