Local sportSport

Blou Bulle bespreek hul plek in Curriebeker eindstryd met oorwinning oor Leeus

Jake White se Blou Bulle het hul plek in die Carling Curriebeker eindstryd bespreek deur hul bure van oorkant die Jukskeirivier op Loftus Versfeld in ‘n taai halfeindstryd te klop.

Die Blou Bulle speel volgende week teen die wenner van vanmiddag se ander Curriebeker halfeindstryd, òf die WP òf die Sharks, nadat hulle die Lions op ’n snikhete Saterdagmiddag op Loftus Versfeld in Pretoria geklop het.

Soos verwag het die Januariemaand-hitte in Pretoria ’n rol gespeel in die verloop van sake en dit was vroeg reeds duidelik dat fiksheid en die vermoë om fokus te behou in die ongewone rugbyweer, ’n groot rol sou speel in die uitslag.

Die eerste helfte het stadig verloop, met baie tyd wat verspil is tydens die vaste skrums. Die agterspelers sou seker nie hieroor gekla het nie, maar vir die twee agttalle was dit moordend en energie-tappend.

Die Blou Bulle het in die eerste helfte goed kop gehou, minder foute gemaak en beter by die omstandighede aangepas, wat hulle gehelp het om teen rustyd met 11-0 voor te loop.

Die tweede helfte het egter die beste rugby van die dag opgelewer, toe die Leeus onmiddelik na die afskop die pas versnel het. Ten spyte van ’n strafdoel deur Steyn vroeg in dié helfte, het die Lions daarna met ’n blitzkrieg van twee drieë teruggekom in die wedstryd.

Eers was dit Willem Alberts wat oorgestorm het na puik spel deur Jaco Kriel, en toé het ’n glips op die verdediging die pad vir Wandile Simelane oopgemaak om met ’n lopie van veertig meter deur te nael.

Daarna het ’n armdruk stryd gevolg, maar swak dissipline van die Leeus het die skaal weer in die Blou Bulle se guns geswaai.

Die tuisspan het die laaste kwart van die wedstryd oorheers en twee keer gaan druk, terwyl hulle die Leeus voorlangs verniel het.

Die wedstryd was tien minute voor die eindfluitjie in die sakkie, maar die Leeus verdien krediet vir hul bittereinder houding, wat aan hulle ’n troosdrie ná die laaste toeter gegee het.

Die Blou Bulle het egter genoeg gedoen om volgende week ’n Curriebeker eindstryd op hul tuisveld aan te bied.

PUNTEMAKERS:

BULLS: 26  Drieë: Stravino Jacobs (2), Johann Grobbelaar. Doelskoppe: Morné Steyn (1). Strafdoele: Morné Steyn (3)

LIONS: 21 Drieë: Willem Alberts, Wandile Simelane, Burger Odendaal.  Doelskoppe: Elton Jantjies (3).

Skeidsregter: Rasta Rasivhenge

 

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button