Local sportSport

Blou Bulle wen Curriebeker ná 100 dramatiese minute op Loftus Versfeld

Die groot droogte is uiteindelik verby vir Bloubul ondersteuners en na elf lang jare kon die Ligbloues van Loftus Versfeld Saterdagaand weer iets koels uit die Curriebeker drink, nadat hulle die Sharks in ’n eindstrdy vol spanning en drama geklop het.

Die Blou Bulle is weer, na ’n droogte van elf jaar, die Curriebeker kampioen.

Jake White se manne het die Sharks Saterdag op Loftus Versfeld in ’n dramatiese en spanningsvolle eindstryd, wat eers in die laaste sekondes van ekstra tyd beslis is, met 26-19 geklop om die gesogte goue beker terug te bring na Pretoria.

Na ’n rugbyseisoen wat weens die Covid-19 krisis waarskynlik bekend sal staan as die mees bisarre seisoen ooit, was dit seker te wagte dat die Curriebeker eindstryd ook ’n paar vreemde dinge sou oplewer.

Die wedstryd het teen 15:00 afgeskop met ’n paar donker wolke in die verre suide vanaf Loftus Versfeld, maar behalwe vir die nat veld – na baie reën deur die week in Pretoria – het dit gelyk of die tafel gedek is vir goeie rugby.

Soos te wagte was die aksie van die begin af hard en taai en dit wou voorkom of strafdoele ’n groot invloed op die uitslag sou hê.

Na ’n armdruk stryd van 24 minute was die Blou Bulle voor met 6-3, maar toe word die spelers en beamptes van de veld geroep weens ’n dreigende elektriese storm naby Loftus.

Toe die manne terugkom op die veld, was dit die Sharks wat hul enigste kans gebruik het en Sbu Nkosi kon in die hoek oorduik na ’n puik beweging vanaf ’n vaste skrum.

Teen rustyd was die Sharks dus met 13-9 voor, nadat Steyn ook intussen nog ’n strafdoel behaal het.

Die tweede helfte was weer klipharde eindstrydrugby en die Blou Bulle kon daarin slaag om self te gaan druk toe Arno Botha oorgebeur het na ’n lynstaan dryfbeweging.

Bosch het egter die Sharks se neuse voor gehou met twee briljante strafdoele van byna 60 meter.

Met enkele minute oor het dit gelyk of die Blou Bulle ’n skok nederlaag sou ly, maar ’n strafdoel deur Chris Smith het sake gelyk getrek op 19-elk.

Ironies genoeg kon Smith enkele minute later nie slaag met ’n strafdoel om die wedstryd te beklink nie, en met die gelykop-telling is ekstra tyd afgedwing.

Na die eerste tien minute van ekstra tyd was sake steeds gelyk op 19-elk en die spanning het opgebou. Die Sharks het verskeie kanse verbeur om punte aan te teken, maar Duane Vermeulen en sy makkers het soos Trojane bly veg en telkens die Durbaniete se aanslae afgeweer.

Uiteindelik het die Bulle hul kans gekry met sowat twee minute se speeltyd oor. Jaco Peyper het ná ’n Sharks oortreding naby die Blou Bulle se doellyn die voordeelreël goed toegepas en ná verskeie fases van dryfspel het Arno Botha vir sy tweede drie én die wendrie van die wedstryd oorgebeur.

Toe Smith se doelskop deur die pale seil, kon Peyper die eindfluitjie blaas om dié epiese stryd tot ’n einde te bring.

 

PUNTEMAKERS:

BULLS: 26  Drieë: Arno Botha (2). Doelskoppe: Morné Steyn (1), Chris Smith (1). Strafdoele: Morné Steyn (3), Chris Smith (1)

SHARKS: 19 Drieë: Sbu Nkosi.  Doelskoppe: Curwin Bosch (1). Strafdoele: Curwin Bosch (4).

Skeidsregter: Jaco Peyper

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button