Local sportSport

Blou Bulle se Curriebeker glorie bevestig positiewe nuwe era

Te midde van al die drama en spanning van Saterdag se Curriebeker eindstryd het die Blou Bulle met hul bittereinder gesindheid en vasbyt-vertoning aan hul ondersteuners én hul teenstanders gewys dat ’n positiewe nuwe era inderdaad op Loftus Versfeld aangebreek het.

Die Blou Bulle is weer, na ’n droogte van elf jaar, die Curriebeker kampioen.

Jake White se manne het die Haaie Saterdag op Loftus Versfeld in ’n dramatiese en spanningsvolle eindstryd, wat eers in die laaste sekondes van ekstra tyd beslis is, met 26-19 geklop om die gesogte goue beker terug te bring na Pretoria.

Na ’n rugbyseisoen wat weens die Covid-19 krisis waarskynlik bekend sal staan as die mees bisarre seisoen ooit, was dit seker te wagte dat die Curriebeker eindstryd ook ’n paar vreemde dinge sou oplewer.

Saterdag se eindstryd was toe wel ’n voortsetting van die seisoen se vreemde intriges. Daar was ’n onderbreking weens weerlig in die eerste helfte en – les bes – ná verskeie verbroude kanse deur albei spanne is die uitslag van die wedstryd eers in die laaste minuut van ekstra tyd beslis.

Die Ligbloues het egter aan hul ondersteuners gewys dat die verowering van die SuperRugby Unlocked-trofee, wat hulle in Novemer verlede jaar gewen het, nie ’n vloekskoot was nie. Die nuwe winde wat op Loftus Versfeld waai dui onteenseglik daarop dat ’n glorieryke nuwe era vir die Bulle aangebreek het.

Groot hoogtes vir die toekoms word voorspel deur die energie, ondernemingsgees en vars denke wat opgesluit is in die driemanskap van Jake White (Direkteur van Rugby), Willem Strauss (president) en Edgar Rathbone (jong nuwe Hoof Uitvoerende beampte). Daarby kan natuurlik ook gevoeg word die  reuse rugbyverwante intellektuele kapitaal en ervaring in die geval van die eersgenoemde twee.

Die geskiedenis van die agt jaar wat gevolg het op die Bulls se laaste SuperRugby titel in 2010 sal in die toekoms as ’n aanskouingsles voorgehou kan word van hoe dinge skeef kan loop en hoe sukses verwoes kan word as daar fokus verloor word.

Daarteenoor  was die regruk- en skoonmaakproses van die afgelope twee jaar weer die teenoorgestelde. Dit sal in die toekoms gebruik kan word as voorbeeld van wat doelgerigte leierskap, die regte visie en daadkragtige optrede vir die heil van ’n organisasie soos die Blou Bulle Rugby-unie kan beteken.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button