Plaaslike rugbylegende en sy vrou vier goue bruilof
Een van die heel groot geeste van klubrugby in Pretoria en sy vrou het onlangs hul goue bruilof gevier.
As rugbyspeler en -administrateur, asook offisier in die destydse onluste-eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) het die bekende en gewilde Katmuis Conradie gestuit vir niks.
In sy dae as speler was hy ’n legende by die ou Pretoria Polisie rugbyklub (Bobbies), waar hy ’n spanmaart was van internasionale sterre soos Mof Myburgh, Piet Uys en Polla Fourie. Hy het ook ses keer vir die destydse Noord-Transvaal op agtsteman uitgedraf.
Later was hy nie net 22 jaar lank sekretaris van die Bobbies rugbyklub nie, maar ook ’n mentor vir vele jong rugbyspelers, onder wie verskeie sterre selfs Springbokke geword het.
Daar kan dus geen twyfel wees dat Katmuis op sy dag ’n steunpilaar en raakvatter in ’n rowwe manswêreld was nie. Tog was daar een persoon wat dié rugbyman se hart kon laat vermurwe. Sy het meer as 50 jaar gelede as aanvallige blondine sy voete onder hom uitgeslaan en na meer as 50 jaar het dinge nog nooit in hierdie opsig verander nie.

Foto: Verskaf
Katmuis (sy naam is eintlik Johan, maar volgens hom het sy ma hom as skoolseun laas só genoem) en die liefde van sy lewe, Annette, het aan die einde van Januarie vanjaar hul 50ste huweliksherdenking gevier.
Dié besonderse liefdesverhaal het volgens Annette begin toe sy direk uit die skoolbanke as burgerlike by die Polisiehoofkantoor in Pretoria se middestad begin werk het. Katmuis was toe reeds ’n paar jaar daar gesetel.
“Ek was sommer gou tot oor my ore verlief op dié aantreklike rugbyspeler met die mooi bene. Ons het begin uitgaan en ons is later op 30 Januraie 1971 getroud,” het Annette aan Rekord vertel.
Katmuis en Annette is in hul huwelik geseën met twee seuns en deesdae spog hulle ook met drie kleinkinders.
Die egpaar het ’n feestelike herdenking van hul goue bruilof beplan, maar ongelukkig het die Covid-19 krisis en die grendelstaat regulasies ’n stokkie daarvoor gesteek. Hulle was dus gedwing om af te skaal en die geleentheid is toe net saam met naby familielede tuis gevier.
