Local sportSport

17-jarige netbalster van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria maak geskiedenis

’n Baie belowende netbalspeler van Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria het geskiedenis gemaak toe sy as skoolmeisie gekies is om die nasionale o.21 netbalspan te verteenwoordig.

Sy word eers in Mei vanjaar 18 en dié feit maak Nicci Oosthuizen se jongste netbalprestasie soveel meer merkwaardig.

Dié vriendelike blondekop matrikulant van Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria (AHMP) het onlangs geskiedenis gemaak toe sy deur die nasionale netbalkeurders nadergetrek is om deel te word van die sogenaamde Baba Proteas (Suid-Afrikaanse o.21 Netbalspan) se oefengroep met die oog op ’n besige skedule in 2021, ten spyte van die Covid-19 krisis.

Sover bekend is sy die eerste skooldogter wat hierdie besondere prestasie behaal.

Oosthuizen is deel van ’n groep spelers wat sal voorberei vir die Netbal Jeug-Wêreldbekertoernooi, wat in September vanjaar in Fidji sal plaasvind as alles volgens plan verloop.

Intussen sal sy waarskynlik reeds gedurende die laaste week van Maart vanjaar in nasionale o.21 kleure in aksie wees as die Baba Proteas gaan deelneeem aan die SPAR Challenge, ’n toernooi waartydens hulle teen die senior SPAR Proteas, die SA President’s XII en die nasionale span van Uganda sal speel.

Nicci Oosthuizen sal swaar steun op die vaardighede wat sy by haar mentor, die netbaldirekteur van AHMP, Amanda Mynhardt, geleer het wanneer sy binnekort as deel van die Suid-Afrikaanse o.21 span in Kaapstad saamtrek.
Foto: Koos Venter

Oosthuizen, wat ewe tuis op die senter- en aanvallende vleuel posisies is, het reeds as laerskooldogter by Laerskool Hennopspark in Centurion die oog gevang op die netbalbaan. Sy is tydens haar laaste twee jare op laerskool (graad 6 en 7) vir die Gauteng-Noord laerskolespan gekies.

Reeds in haar eerste jaar op hoërskool is sy deur dié skool se netbaldirekteur en eerstespan afrigter, Amanda Mynhardt, raakgesien. Na puik spel vir die skool se o.14 span in haar graad 8 jaar, het Mynhardt haar die volgende seisoen summier na die eerstespan opgetrek.

Volgens Mynhardt, ’n voormalige kaptein van die Proteas, was dit nie net Oosthuizen se besonderse fisiese vaardighede op die baan wat die aandag getrek het nie, maar ook haar strategiese vermoëns en aanvoeling vir die spel.

Oostuizen, wat ook as swemmer en atleet (spiesgooi) uitblink, het groot drome vir haar netballoopbaan. Hieronder sluit in haar droom om teen 2023 deel te kan wees van die senior Proteas wanneer die netbal Wêreldbekertoernooi in Kaapstad aangebied gaan word.

Op die langer termyn beplan sy om in Suid-Afrika te studeer vir ’n loopbaan in die landbou ekonomie.

“Ek het ’n groot voorliefde vir die plaaslewe en die landbousektor interesseer my soveel dat ek daarvan ’n loopbaan wil maak,” het sy aan Rekord gesê.

Intussen sal netbal ’n groot deel van haar lewe bly en met ’n mentor soos Mynhard, wat die wêreld deurreis het as netbalseler, is Oosthuizen deeglik bewus dat haar talent op die netbalbaan vir haar groot geleenthede kan skep.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button