Blou Bulle se tweedebestes vermorsel OP Olifante
Al wat die Blou Bulle se reuse oorwinning Sondagmiddag oor die OP Olifante bewys het, is dat SA Rugby se absurde politieke agenda met rugby in die Oos-Kaap en dié span se gevolglike onverdiende promosie om saam met die land se top sewe spanne te kompeteer in die voorseisoen toernooi, in hul gesigte gaan ontplof.
Die Blou Bulle se tweedebeste span, wat verskeie spelers ingesluit het wat verlede seisoen nog o.21 rugby gespeel het – en enkeles wat steeds as juniors kwalifiseer – het die OP Olifante Sondagmiddag tot hul groot ontugtering geleer waaroor rugby op topvlak gaan.
Die Pretorianers se oorwinning van 87-10, wat 12 skitterende drieë ingesluit het, was nie net ’n wekroep vir die spelers en beamptes uit die Oos-Kaap nie, maar beslis ook ’n vroeë waarskuwing vir SA Rugby oor die vuur waarmee hulle speel weens hul ondeurdagte hantering van rugby in die Oos-Kaap.
Dit was sommer van die afskop af duidelik dat die twee spanne nie in dieselfde liga hoort nie. Hoewel die besoekers vinnig drie punte aangeteken het met ’n strafdoel, ná ’n tegniese oortreding van die Blou Bulle, was dit daarna eenrigtingverkeer vir sowat sestig minute.
Eers in die 65ste minuut van die wedstryd kon die OP daarin slaag om ’n troosdrie te druk, nadat skeidsregter Stuart Berry hulle so bietjie moes help om momentum te kry deur die Blou Bulle aanhoudend te straf in die rooi gebied.
Uiteindelik was dit eenvoudig ’n kwessie van twee spanne wat nie op dieselfde veld hoort nie. Dit was professionele, goed afgerigte spelers teen amateurs. Welliswaar die Blou Bulle se tweedebestes, maar dié manne is steeds in ’n ander liga as Peter de Villiers se spelers, wat sal sukkel om een van die Blou Bulle se top klubs te klop.
Wat die Blou Bulle betref, die vertoning het hulle broodnodige wedstrydoefening gegee, veral weens die vinnige pas waarteen daar gespeel is. Dit sal hulle ook help met selfvertroue vir die res van die seisoen, terwyl die span se diepte gebou word met die oog op ernstiger sake later in die seisoen, wanneer die Reënboog-toernooi (Pro16 in Europa) afskop.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







