Local sportSport

Grizzlies maak gereed vir rugby-askie ná jaarlange droogte

Klubrugby het onder die nuwe “Fase 1” Covid-regulasies die groenlig gekry om weer te begin oefen en by die Tuine Sportklub word die vere reggeskud vir ’n bedrywige afskop vir die nuwe seisoen.

Teen hierdie tyd is dit lankal nie meer ’n geheim dat verskeie sportsoorte ernstige skade gely het sedert die Covid-19 krisis sowat ’n jaar gelede ontstaan het nie.

Een van die sportkodes wat die effek van hierdie terugslag die ergste gevoel het, is klubrugby. Die eerste rondte van amptelike klubrugby is verlede jaar skaars afgehandel, toe alles tot stilstand geruk is. Die effek hiervan was nie net die sielkundige skade wat spelers gely het weens die anti-klimaks toe hul seisoen – ná al die harde werk in die voorseisoen – so skielik tot stilstand geruk is nie, maar finansieel het die klubs ook harde bene gekou. ’n Groot deel van hul inkomste is immers afkomstig van die verkope van verversings, asook hek inkomste tydens wedstryddae.

Die goeie nuus is egter verlede week aangekondig dat rugbyklubs amptelik weer mag begin oefen om die bal aan die rol te kry vir die 2021 seisoen.

By Tuine Sportklub, tuiste van die Grizzlies rugbyspanne, heers daar groot opgewondenheid sedert daar aangekondig is dat rugbyklubs se deure weer mag open en spelers mag begin oefen.

Oefeninge sal eerskomende Maandag begin en daar word elke Maandag, Woensdag en Donderdag geoefen om die manne reg en fiks te kry vir die seisoen. Hierdie oefensessies begin om 18:30.

Alle gevestigde spelers, asook nuwe belangstellendes word dus genooi om vanaf eerskomende Maandag vir oefeninge aan te meld. Daar word ook ’n spesiale uitnodiging gerig aan skoolverlaters en jong spelers wat nog vir o.20 rugby kwalifiseer. Die klub het ’n trotse tradisie met hul jong span en dis algemeen bekend dat werwers van provinsiale spanne dié liga van die Blou Bulle met ’n valkoog dophou op soek na onontginde talent.

Hoewel geen amptelike porgram vir klubrugby nog bekend is nie, lyk dit of die Blou Bulle se ligas dalk teen die einde van April sal kan afskop. Dit gee klubs sowat ses tot sewe weke om behoorlik voor te berei vir die seisoen. Die afrigters en bestuur is gerat om so gou moontlik te begin om die manne fisies reg te kry vir rugby-aksie, asook om hul vaardighede weer op peil te bring.

Volgens Jaco Olivier, voorsitter van Tuine Sportklub, is die klub se terrein meer as gereed vir die seisoen om af te skop. Hoewel geen rugby-askie die afgelope jaar moontlik was nie, het daar tog baie dinge by die klub verander.

By Tuine Grizzlies se klubhuis het reuse verbeterings plaasgevind, met die restaurant en kroeg wat deesdae met die beste in die privaatsektor kan saamgesels.  Olivier spog ook dat die klub se veld-oppervlaktes steeds baie goed in stand gehou is en dat geen ander klub in Pretoria daarmee kan kompeteer nie.

Groot feestelikheid word verwag op Donderdag 18 Maart, wanneer die Blou Bulle se bestuur en sommige top spelers by Tuine Sportklub kom kuier op hul sogenaamde “roadshow”, waarmee hulle die unie se trofees (insluitende die Curriebeker) aan ondersteuners by die klubs gaan vertoon. Ondersteuners sal die geleentheid kry om fotos by dié trofees en saam met die spelers te neem.

Die bestuur van Tuine Grizzlies nooi hul ondersteuners uit om dié dag die klub te besoek en aan die feestelikhede deel te neem. Alle voorsorg en protokolle ten opsigte van die Covid krisis sal egter gehandhaaf word tydens die geleentheid.

Tydens dieselfde geleentheid sal die bestuur van Tuine Grizzlies ook hul toekoms-strategie en planne bekendmaak, terwyl borge en die afrigters vir die nuwe seisoen ook aan ondersteuners en spelers voorgestel sal word.

Vir enige navrae, skakel Jaco Olivier by 073-179-5573.

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button