Bulle bring 2020 se trofee-sukses na hul ondersteuners
Spelers en bestuurslede van die Bulls sal vanaf Maandag 15 Maart tot Woensdag 24 Maart verskeie rugbyklubs in Pretoria en Limpopo besoek om Bloubul ondersteuners te ontmoet en die Curriebeker aan hulle te kom vertoon.
Na ’n dekade waarin die Blou Bulle se trofeekas op Loftus Versfeld niks meer as enkele junior (o.19 en o.21) trofees kon oplewer nie, was die Covid-19 onderbreekte 2020 seisoen soos ’n reuse donderstorm na ’n lang droogte.
Terwyl beide die Blou Bulle se junior spanne as nasionale kampioene gekroon is, het die koms van ’n nuwe bestuurspan onder leiding van Jake White ook groot sukses vir die seniors gebring.
Ná die Curriebeker eindstryd, wat eers in Januarie 2021 gespeel is, kon die Blou Bulle spog met elke belangrike provinsiale trofee wat in Suid-Afrika beskikbaar is.
Ongelukkig moes al hierdie prestasies weens die Covid-19 krisis plaasvind sonder dat dit vir die Bulle se miljoene ondersteuners moontlik was om hulle in die stadions van Suid-Afrika te ondersteun.
Nou het die Blou Bulle se bestuur onder leiding van die president, Willem Strauss, ’n plan beraam om die span se ondersteuners ’n geleentheid te gee om deel te word van die suksesvole 2020 seisoen.
Die Blou Bulle begin volgende week op Maandag 15 Maart met ’n uitgebreide toer waartydens verskeie van die span se sterre saam met die bestuurspan die Curriebeker, wat na ’n droogte van 11 seisoene weer op Loftus Versfeld staan, na die ondersteuners sal neem. Die toer sal op verskillende dae by nege verskillende klubs in Pretoria en Limpopo aandoen.
Ondersteuners sal tydens hierdie toer die geleentheid kry om hul helde te onmoet, terwyl hulle ook die Curriebeker in volle glorie sal sien en die geleenthed sal kry om foto’s daarvan (en sam met die spelers) te neem.
Kom ontmoet dus jou Bloubul helde by die klub van jou keuse, terwyl jy ’n foto kan neem by die wêreldberoemde Curriebeker. Alle regulasies ten opsigte van Covid-19 sal gehandhaaf word.
Die trofee-toer se skedule van die toer is as volg:
- Suide van Pretoria: Centurion Rugbyklub – Maandag 15 Maart 2021 vanaf 18:00 tot 20:00
- Pretoria sentraal: Pretoria Rugbyklub – Dinsdag 16 Maart 2021 vanaf 16:00 tot 18:00
- Pretoria sentraal: Harlequins Rugbyklub – Dinsdag 16 Maart: vanaf 18:30 tot 21:30
- Noorde/Moot van Pretoria: Naka Bulle Rugbyklub –Woensdag 17 Maart vanaf 18:00 tot 20:00
- Weste van Pretoria: Tuine Sportklub – Donderdag 18 Maart vanaf 18:00 tot 20:00
- Waterberg/Limpopo: Kwaggas Rugbyklub in Warmbad – Dinsdag 23 Maart vanaf 10:00 tot 11:00
- Ellisras/Limpopo: Mogol Rugbyklub – Dinsdag 23 Maart vanaf 14:00 tot 15:00
- Peter Mokaba Stadium (Pietersburg) – Woensdag 24 Maart vanaf 14:00 toto 15:00
- Limpopo: Potgietersrus Rugbyklub – Woensdag 24 Maart vanaf 17:00 tot 18:00
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
Dinsdag 16 Maart: vanaf 18:30 tot 21:30
