Local sportSport

Bulls veg hard teen Stormers om hul onoorwonne rekord op Loftus te behou

Die Bulls het hul post-Covid grendelstaat onoorwonne status op Loftus Versfeld behou met ‘n oorwinning oor die Stormers, waarvoor hulle baie hard moes veg en laat in die tweede helfte van ‘n agterstand af moes terugkom vir die oorwinning.

Die Bulls het Vrydagaand hard geveg vir hul oorwinning van 34-29 teen die Stormers op Loftus Versfeld, nadat hulle tot laat in die wedstryd vir die grootste deel van die stryd agter was op die telbord.

Nadat die Bulls alle aspekte – behalwe die vaste skrums – oorheers het, kan daar waarskynlik baie vrae gevra word oor waarom hulle juis in die posisie was om teen die einde vir oorlewing te veg. Die tuisspan het vyf drieë gedruk teenoor die Stromers se twee, maar die genadelose fluitjie van skeidsregter AJ Jacobs, het aan die Stormers se skoppers, Kade Wolhuter en Tim Swiel, die geleentheid gegee om hul span binne trefafstand te hou…

Dit was die Bulls wat die wedstryd op baie opwindende wyse begin het deur die bal mooi lug te gee. Hierdie positiewe ingesteldheid het gelei tot Richard Kriel se drie na net ’n paar minute se spel.

Hierna het die Bulls egter begin sukkel om momentum op te bou. Die Stormers, daarenteen, het gate in die tuisspan se verdedigingslinie begin vind en al hoe gevaarliker gelyk.

Die tweede kwart van die wedstryd het aan die Kapenaars behoort. Blapse op die verdediging het aan Leolin Zas twee maklike drieë besorg, terwyl Kade Wolhuter ook akuraat pale toe gemik het met ’n paar strafdoele.

Die Bulls het enkele minute voor rustyd hulself reggeruk en na ’n effektiewe lynstaan dryfbeweging, was dit haker Joe van Zyl wat kon afrond om die rustydtelling op 14-20 in die guns van die Stormers te staan te bring.

Na rustyd het die Bulls weer met ’n vinnige aanvalsbeweging byna onmiddelik gaan druk toe Marco Janse van Vuren waarskynlik die drie van die wedstryd afgerond het na ‘n beweging van sowat 60 meter.

Wéér is die Bulls se momentum egter versteur, maar hierdie keer was dit minder as gevolg van hul eie gesukkel en meer as gevolg van skeidsregter, AJ Jacobs se genadelose fluitjie, wat strafskoppe soos suigstokkies uitgedeel het.

Die Stormers het hierop geteer en met vyf suksesvolle strafdoele bygebly op die telbord.

Uiteindelik was die verskil ‘n strafdrie aan die Bulls, wat waarskynlik die wedstryd goed opgesom het. Cornal Hendricks het deurgebreek en ver gehardloop. Toe hy met ‘n desperate duikslag platgetrek is, het hy gereed gemaak om die bal uit te gee, maar Ruan Nel het deur ‘n baie onsportiewe professionele oortreding die bal uit sy hande geklap.

Jacobs het geen ander keuse gehad om ‘n strafdrie toe te ken nie, aangesien twee Bulls spelers gereed was vir Hendricks se aangee om te druk.

Die Stormers het teen die einde weer hard probeer om te verras, maar toe Juarno Augustus die bal aangeslaan het nadat hy reeds oor die doellyn is, was dit neusie verby. Dié drie sou egter ook ‘n verdere skandvlek op Jacobs se sy assestente se vertoning gewees het, aangesien twee vorentoe aangeë vroeër in die beweging misgekyk is.

PUNTEMAKERS:

BULLS: 34  Drieë: David Kriel, Joe van Zyl, Marco Janse van Vuren, Ruan Nortjé, Strafdrie Doelskoppe: Chris Smith (2). Strafdoele: Morné Steyn (1)

LIONS: 29 Drieë: Leolin Zas (2).  Doelskoppe: Kade Wolhuter (2). Strafdoele: Kade Wolhuter (3), Tim Swiel (2).

Skeidsregter: AJ Jacobs

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button