Local sportSport

Pretoria Rugbyklub terug in top liga

Pretoria Rugbyklub blaf vanjaar weer saam met die groot honde in die Blou Bulle se klubligas en spelers van alle ouderdomsgroepe word genooi om by die klub aan te sluit.

Ná ’n paar moeilike jare, waartydens hul toekoms soms selfs in gedrang was, het die nuwe bestuur van Pretoria Rugbyklub uiteindelik die klub weer in só ’n mate op koers gekry dat hulle vanjaar weer saam met die groot honde kan blaf.

Ja, Pretoria Rugbyklub is terug in Carltonliga, nadat hulle in 2019 puik presteer het in beide die Blou Bulle se Presidentsliga as die gesogte interprovinsiale Volcanobeker klubtoernooi.

Onder die bestuur van die klub se president, prof. Neels van Heerden, en die voorsitter, Jaco Basson – wat ook die klub se rugbydirekteur is – is Pretoria Rugbyklub sedert 2018 weer hervestig as ’n krag in klubrugby geledere.

Hoewel die klub, soos enige ander sportinstelling, verlede jaar moeilike tye beleef het weens die Covid-19 krisis, sien die bestuur uit na groot hoogtes in 2021. Dié klub het onlangs verneem dat die Blou Bulle se bestuur besluit het om, ter wille van nuwe planne om klubrugby te versterk en uit te bou, Carltonbeker status toe te ken aan hulle en ook aan die Tuine Grizzlies op grond van beide klubs se vordering en prestasies in 2018 en 2019.

Dit beteken dat Pretoria vanjaar drie senior spanne en twee o.20 spanne vir die Blou Bulle se ligas sal inskryf.

Te midde van hierdie nuwe verwikkeling het die bestuur van Pretoria rugbyklub ’n oproep gedoen aan alle spelers wat op soek is na ’n tuiste vir die nuwe seisoen, om so gou moontlik by hulle aan te sluit.

Jaco Basson, rugbydirekteur van Pretoria, wys daarop dat die klub veral groot geleenthede aan o.20 spelers kan bied. Die klub se o.20 spanne sal in die Blou Bulle se opwindende nuwe o.20 ligas kompeteer. Dit is geen geheim dat dié liga noukeurig gemonitor sal word deur talentsoekers nie. Daarom sal spelers in hierdie liga besondere blootstelling kry.

Weens die verandering in strukture en kontrakteringsmodelle by die professionele unies, behoort ’n unie soos die Blou Bulle se o.20 klubliga vanjaar te wemel van talent en alle ander unies – groot en klein – se talentsoekers sal dié liga waarskynlik fynkam op soek na spelers.

Pretoria Rugbyklub het intussen ’n spesiale o.20 oefenprogram begin, waarby belangstellende spelers vanaf 09:00 tot 12:00 daagliks vanaf Maandae tot Donderdae kan inskakel.

Junior én senior spelers wat belangstel om by die klub aan te sluit word ook genooi om Dinsdae en Donderdae vanaf 18:00 tot 20:00 vir oefeninge op die klub se velde in Totiusstraat, Groenkloof, aan te meld.

Vir verdere navrae, skakel Jaco Basson by 084-605-3731.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button