Skolesport kry die groen lig om voort te gaan
Liefhebbers van skolesport is opgewonde oor die aankondiging dat wedstryde op dié vlak mag voortgaan, maar die slegte nuus is dat – net soos in die geval van sport op die meeste ander vlakke – toeskouers voorlopig ook nie by aksie op skolevlak toegelaat sal word nie.
Nadat SA Rugby twee weke gelede aangekondig het dat senior rugbyspelers op amateur- en klubvlak met die toestemming van die regering en die Nasionale Coronavirus bevelsraad mag begin oefen met die oog op die hervatting van wedstryde teen die begin van Meimaand, het skolesport die afgelope naweek ook goeie nuus ontvang.
Die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, het die afgelope naweek in die Staatskoerant aangekondig dat die regering en die Nasionale Coronavirus bevelraad nou ook toestemming gegee het dat alle skolesport in spanverband hervat mag word.
Hierdie goeie nuus is van toepassing op alle interskole byeenkomste, asook skolesport toernooie oor provinsiale grense.
Soos verwag is die voorwaarde gestel dat hierdie byeenkomste en toernooie aangebied kan word sonder enige toeskouers, terwyl daar uiteraard ook aan alle regulasies en veiligheidsmaatreës ten opsigte van die voorkoming van die verspreiding van die Coronavirus voldoen moet word.
Skolesport liefhebbers wat uitgehonger is vir aksie is veral opgewonde dat die opheffing van die verbod op skolesport byeenkomste beteken dat die room van Suid-Afrika se skole rugbyspanne binnekort in Pretoria in aksie kan wees.
Die gewilde Noord-Suid rugbytoernooi word beplan vir die week van 27 April tot 1 Mei. Dit sal op die sportterrein van Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) aangebied word.
Top sportskole uit ander provinsies soos Paarl Gimnasium (Wes-Kaap), Paarl Boys High (Wes-Kaap), Stellenberg (Wes-Kaap), Outeniqua (Wes-Kaap), Oakdale Landbouskool (Wes-Kaap), Duineveld (Noord-Kaap), Grey Kollege (Vrystaat), Welkom Gimnasium (Vrystaat), HTS Middelburg (Mpumalanga), Helpmekaar Kollege (Gauteng), Dr. EG Jansen (Gauteng) en Monument (Gauteng) sal in hierdie toernooi in aksie wees saam met plaaslike skole soos Afrikaans Hoër Seunskool (Affies), Garsfontein, Menlopark en Waterkloof.
Intussen is die VersekerBeker toernooi se bepalings ook bekendgemaak. Dié gesogte toernooi, wat ’n voortsetting van die tradisionele Direkteurstrofee (later Beeldtrofee) toernooi is, word in drie afdelings beslis op grond van die gradering van deelnemende skole.
Top skole speel in die Beker-afdeling, terwyl die Plaat- en Skildafdelings ook groot belangstelling uitlok. Plaaslike skole van Pretoria sal in al drie hierdie afdelings in aksie wees.
Die beplanning en bepalings van ander sportsoorte soos netbal en hokkie sal waarskynlik ook in die volgende week bekendgemaak word na aanleiding van die opheffing van die aksie-verbod deur die regering.
Hoewel daar reeds geruime tyd lank atletiek-aksie op verskillende vlakke plaasvind, kon skole-atlete nog nie vanjaar amptelik in skoolverband aan dié gewilde sportsoort deelneem nie. Met die sogenaamde “winter-sportsoorte” wat nou eerste op die skole se prioriteitslyste is, lyk dit of die belangrikse deel van die atletiekseisoen vanjaar na die laaste termyn kan skuif.
Geen finale besluite is nog geneem nie, maar Rekord het verneem dat die moontlikheid bestaan dat plaaslike interhoër atletiekbyeenkomste waarskynlik tot die laaste skooltermyn uitgestel kan word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
