Silver Valke rugbyklub is reg vir aksie, nooi spelers om aan te sluit
Soos alle ander rugbyklubs het die Silver Valke ook weer begin oefen na die lang inperkingstyd weens Covid en spelers wat nog twyfel oor hul rugbytuiste vir die seisoen, word genooi om by dié klub aan te sluit.
Na ’n jaar van inperkings en swaarkry vir die klubrugby gemeenskap, het die owerhede onlangs weer aan klubs toestemming gegee om te begin oefen met die oog daarop dat ligawedstryde aan die einde van Aprilmaand moontlik kan begin.
Soos ander klubs het die Silver Valke in Silverton, Pretoria, ook ’n moelike jaar agter die rug, want weens die Covid-krisis was absoluut geen aktiwiteite toegelaat nie.
Dié klub beoog egter om hierdie “nuwe begin” tot sy voordeel aan te wend. Die Silver Valke het enkele seisoene gelede nog getel onder een van die top klubs in die Blou Bulle se ligas. Terugslae buite die bestuur se beheer het egter moeilike tye tot gevolg gehad.
Ten spyte van al die terugslae het die Silver Valke oorleef en spog dié klub steeds met van die beste fasiliteite in plaaslike klubrugby. Die klub beoog om vanjaar drie spanne (twee senior en een o.20 span), vir die Blou Bulle se ligas in te skryf. Die senior spanne sal in die Presidentsliga meeding.
Wat die o.20’s betref, sal die liga waarin hulle deelneem aan junior spelers die geleentheid gee om blootstelling te kry en moontlik raakgesien te kan word deur talentsoekers.
Weens nuwe reëls en regulasies van SA Rugby sal bittermin skoolverlaters professionele kontrakte kry. Daarom sal junior klubrugby (die Blou Bulle se o.20 ligas) ’n ideale geleentheid wees vir elke speler wat ernstig is oor sy rugby, terwyl daar ook die geleentheid is vir diegene wat net sy rugby wil geniet en op kompeterende vlak te kan meeding.
Senior en junior spelers wat belangstel om vanjaar nog klubrugby te speel, kan Dinsdae en Donderdae vanaf 18:30 tot 20:30 aanmeld vir oefeninge by die Silver Valke se velde by Roestoffstraat 220, Silverton.
Belangstellendes kan vir Billy Beukes kontak by 076-515-8675.
Indien daar enige iemand is wat ’n passie en liefde vir rugby het, en ook by die adminisrasie van klubrugby of as afrigters betrokke wil raak, kan Henry van Wyk geskakel word by 083-466-9016.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
