Munies se Rolbal-Besigheidsliga gewilder as ooit
’n Gewilde sosiale rolbaltoernooi, wat weens die Covid regulasies lank uitgestel moes word, het onlangs weer aan deelnemers die geleentheid gegee om hul gate uit te geniet op die bane van die Munies Rolbalklub.
Ná maande van inperkings en bittermin sosiale verkeer, was die terrein van Pretoria Munisipale Rolbalklub (Munies) die afgelope twee maande weer ’n miernes van bedrywighede toe die gewilde Besigheidsliga weer kon plaasvind.
Dié liga is ’n sosiale toernooi wat oor vyf weke plaasvind en tradisioneel word dit twee keer per jaar in Februarie/Maart en weer in Oktober/November deur Munies aangebied by hul bane op die hoek van Annie Bothalaan en Unionstrate in Riveria, Pretoria.
Weens die Covid krisis en gevolglike inperkings kon die toernooi nie einde verlede jaar plaasvind nie, wat beteken het dat gereelde deelnemende spanne behoorlik uitgehonger was vir die kompetisise en die sosiale verkeer.
Selfs die Covid-regulasies wat in die eerste toernooi van 2021 van toepassing was, het die spanne en spelers nie verhoed om hul gate uit te geniet op die bane nie.
Vir dié toernooi, wat jare gelede reeds deur Marius Engelbrecht en Cor Troskie van dié klub begin is, kan enige plaaslike besigheid spanne van vier lede elk inskryf. Dié spanne speel dan oor ’n tydperk van vyf weke in ’n rondomtalie formaat teen mekaar, waarna die spanne wat bo aan die puntelys eindig mekaar in die eindstryd aanvat.
Dis groot pret en spelers hoef nie in formele rolbalklere te speel nie. Baie spanne maak vir hulle spesiale uitrustings om hul eenheid en spangees te versterk.
“Hulle kan selfs kaalvoet speel, solank hulle net nie skoene dra wat die baanoppervlak kan beskadig nie,” het Ronnie Doyle, hoof van bemarking en ontwikkeling by die klub verduidelik.
Dylan Mitchell, voorsitter van die klub, sê die meeste besighede gebruik die geleentheid as spanbou oefening vir hul personeel, terwyl die klub weer hul fondse daarmee versterk.
“Dis groot pret vir die deelnemers en ons gebruik die toernooi ook om die sport te bevorder en uit te bou. Hierdie toernooi bewys aan die deelnemers dat dit ’n gesinsport is waaraan almal kan deelneem. Ons jongste deelnemer is ses jaar oud, terwyl die oudste in sy negentigs is,” het Mitchell verduidelik.
Behalwe vir dié gewilde Besigheidsliga is Munies se rolbalklub ook die tuiste van heelwat ernstiger spelers. Die klub het twee spanne in die eersteliga van Rolbal Gauteng-Noord, terwyl verskeie plaaslike kompetisies die spelers heeljaar besig hou.
Munies se puik fasiliteite maak dié klub ook ’n gewilde bestemming vir verskeie interklub- en provinsiale kompetisies, soos die King en Queen of the Ring, ’n enkelspel toernooi, wat onlangs op die klub se bane aangebied is.
Die klub is boonop die tuiste van verskeie kampioene, waarvan die belowende jong Cecil Bornman ’n goeie voorbeeld is. Hy was verlede jaar se King of the Ring kampioen, terwyl hy ook die huidige Suid-Afrikaanse Junior Meesterskapioen is.
Voornemende spelers wat belangstel om by Munies Rolbalklub aan te sluit, word genooi om Ronnie Doyle by 064-656-9753 of Dylan Mitchell by 072-128-1303 te skakel vir meer besonderhede.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
