Plaaslike skole kry swaar in Noord-Suid rugbytoernooi
Skole uit die suidelike dele van die land het die afgelope naweek by die gewilde en gesogte Noord-Suid skolerugby toernooi, wat in Pretoria aangebied is, in só ’n mate sake oorheers, dat dit selfs tot omstredenheid gelei het.
Die langverwagte Noord-Suid skolerugby toernooi, wat verlede week op die sportterrein van die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria afgehandel is, is in ’n baie groot mate deur deelnemende skole uit die suidelike dele van die land oorheers.
Hierdie toernooi, wat sedert sy stigting enkele jare gelede gegroei het tot een van die spog skolerugby toernooie in die land, het vanjaar tien skole uit twee van die noordelike provinsies van die land (Gauteng en Mpumalanga) opgelewer, terwyl die suidelike deel van die land verteenwoordig is deur skole uit die Wes-Kaap, Vrystaat en Noord-Kaap.
Altesaam 36 wedstryde is tydens die toernooi oor ’n tydperk van vier dae gespeel. Die eerste deel van die toernooi is op Dinsdag 27 April en Woensdag 28 April in redelike mooi weer afgehandel, maar op Vrydag 30 April en Saterdag 1 Mei het die weer verander en spanne moes ook met die nat veld, reën en winderige toestande rekening hou.
Hoewel die top skole uit die suide tradisioneel baie kompeterend is in hierdie toernooi en nie maklik geklop word nie, was vanjaar se uitslae merkwaardig eensydig. Die skole uit die suide het nie net 29 van die 36 kragmetings gewen nie, maar die groot punteverskille in die meeste van die wedstryde was ook opvallend.
Daar was ook sommer gou omstredenheid toe veral die drie deelnemers uit Pretoria erg gesukkel het en vier van die vyf wedstryde waarin hulle betrokke was, verloor het.
Hierdie tendens het skolerugby kenners laat frons, maar ’n deeglike ontleding van die wedstryde waarby Hoërskool Garsfontein, Hoërskool Menlopark en Affies betrokke was, het baie duidelik daarop gedui dat dié drie skole se spanne beslis ’n agterstand teenoor hul teenstanders gehad het ten opsigte van wedstrydfiksheid en hul skerpheid in algemene samespel.
Dit is bekend dat skole almal onderworpe was aan streng Covid-regulasies van die owerhede wat hulle verbied het om aan kontak- of span-oefeninge te kon deelneem voor 27 Maart vanjaar – sowat ’n maand voor hierdie toernooi.
Die spel van plaaslike skole – veral die drie deelnemers uit Pretoria – het duidelik gewys dat hulle by hierdie bepalings gehou het, aangesien hulle beslis ’n gebrek aan wedstrydfiksheid gehad het en daarby nie naastenby so skerp was in hul samespel soos daar van hierdie skole se spanne gewoord geraak is in die verlede nie.
Kenners is dit egter eens dat, met die oog op die vertonings van verskeie ander deelnemers aan die toernooi, hulle waarskynlik nie so streng by hierdie regulasies gehou het nie. Sommige het reguit gesê die reëls is gebuig.
Die gasheer van die toernooi, Afrikaans Hoër Seunskool, het hul eerste wedstryd teen die Oakdale Landbouskool van Riversdal met 21-46 verloor, terwyl hulle hard moes veg om die hoofwedstryd op die laaste dag met 31-26 teen Welkom Gimnasium te wen.
Garsfontein het twee keer verloor. Hulle het hul op dag een van die toernooi in ’n verwoede Paarl Gimnasium vasgeloop, wat met ’n seepgladde en byna foutlosse vertoning die wedstryd met 84-0 gewen het. Daarna het die Garsies op die derde dag in reën en modder ook teen Oakdale Landbou (12-41) vasgeval.
Menlopark was in net een wedstryd betrokke, maar hulle het op dag twee met 19-51 die knie gebuig teen Grey Kollege van Bloemfontein.
Die Hoërskool Waterkloof moes noodgedwonge op kort kennisgewing en in opdrag van die onderwysdepartement uit hierdie toernooi onttrek, nadat gevalle van ’n griepvirus by die hoof van die skool en sommige leerlinge gediagnoseer is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.






