Carltonbeker aksie terug op die veld
Na meer as ’n jaar se frustrasie en afwagting, kon die top klubs onder jurisdiksie van die Blou Bulle die afgelope naweek vir die eerste keer weer in die gesogte Carltonbeker liga uitdraf.
Die Carltonbeker liga is terug en hoewel daar die afgelope naweek ook ’n speek of twee in die wiel was vir klubrugby aksie, kon dié gesogte toernooi ten minste met twee opwindende wedstryde aan die gang kom.
Hoewel daar die afgelope 14 maande nie veel op die veld gebeur het nie, was die administrateurs egter taamlik besig en klubrugby kon die naweek afskop met ’n gees van hoop en verwagting, aangesien die toekoms van rugby op hierdie vlak skielik baie beter lyk.
Daar is wel klubs – veral in die laer ligas – wat òf nie die Covid-krisis oorleef het nie òf sukkel om weer aan die gang te kom, maar sake lyk oor die algemeen rooskleurig in die Carltonbekerliga.
Die tendens wat tydens die laaste paar seisoene voor die Covid-krisis begin het, waarin al hoe meer top spelers weer by klubs betrokke raak, is nou amptelik deur die president van die Blou Bulle, Willem Strauss – met die hulp en samewerking van Jake White as Direkteur van Rugby – tot die volgende vlak geneem.
Al die Bulle se professionele spelers is by klubs ingedeel en die meeste van hulle sal in die toekoms vir dié klubs in aksie wees as hulle nie vir die Bulle gekies word nie.
Daarbenewens is die Carltonbeker liga uitgebrei toe Pretoria Rugbyklub na byna ’n dekade se sukkel-tydperk, weer hul Carltonstatus teruggekry het, terwyl Tuine se Grizzlies ook na saam met die groot honde gaan blaf.
Ongelukkig is dié twee spanne, wat in hul eerste wedstryd van die liga teen mekaar sou speel, se kragmeting die afgelope naweek weens Covid-probeleme uitgestel tot ’n latere datum. Slegs twee wedstryde het wel plaasgevind.
– In die Moot het ABE Midas Naka Bulle op hul tuisveld met Harlequins afgereken. Die eindtelling was 34-3 in die tuisspan se guns.
Harlequins, sal vanaf die nuwe seisoen weer onder hul ou naam bekendstaan, nadat hul samesmeltingsooreenkoms met die ou Pretoria Polisie klub tot ’n einde gekom het. Harlequins en Poliise het die afgelope paar seisoene onder die naam Quins-Bobbies (QBR) aan die liga deelgeneem.
– In Centurion het die tuisspan hul wedstryd teen die deelnemer van die Limpopo Blou Bulle, die Northam Rhinos, met 26-29 verloor.
Soos die telling aandui was dit ’n klipharde en spannede stryd wat tot in die laaste minuiut in die weegskaal was.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
