Ná promosie is Tuine reg om ’n rugbykrag in Pretoria te word
Die Tuine Sportklub se Grizzlies rugbyspanne is onlangs deur die Blou Bulle gepromoveer na die gesogte Carltonbeker liga en met hierdie heuglike gebeurtenis in dié klub se bestaan is ’n lewensdroom en visie van een man ook ná ’n dekade van harde werk en baie opoffering bewaarheid.
Sowat ’n dekade gelede was Jaco Olivier, deesdae voorsitter van die Tuine Sportklub, net nog ’n suksesvolle sakeman met ’n passie vir rugby.
Hy was ook ’n Bloubul skeidsregter, wat veral in skole- en klubligas met sy fluitjie orde op die veld gehandhaaf het.
Toe word hy gevra om by dié klub betrokke te raak as afrigter. Hy het ingestem, maar baie gou het sy betrokkenheid gegroei tog veel meer as een van die afrigters van die klub. Sy passie vir die spel en sy liefde vir die mense van sy gemeenskap het nuwe drome in dié progressis laat ontvlam.
Olivier is een van daardie uitsonderlike mense wat nie net groot kan droom nie, maar ook oor die vermoë beskik om daad by sy drome te sit.
Teen die tyd dat Olivier al die papierwerk met die munisipale owerhede in orde gekry het om sy ontwikkelingsdrome by die Tuine Sportklub te kan laat realiseer, was die klub in terme van hul deelname aan die Blou Bulle se ligas in ’n fase van stagnasie. Daar was nog altyd baie talent in die weste van Pretoria, maar die hulpbronne om dit op klubvlak na regte te ontwikkel, het ontbreek.

Foto: Verskaf
Olivier se droom was egter groter as net prestasie op die veld. Hy wou die Tuine Sportklub ontwikkel tot ’n ware moderne gemeenskapsklub. Dis moes ’n plek wees waar almal in die gemeenskap welkom sou voel. Hy wou ’n tuiste skep vir die mense van die Weste waar hulle nie net sport kon beoefen nie, maar ook as gemeenskap sosiaal kon verkeer.
Toe Rekord die eerste keer teen die einde van 2010 met Olivier gesels het oor sy drome, het bouwerk skaars begin aan die nuwe klubhuis. Die kleinerige Lapa wat vroeër as klubhuis gedien het, is afgebreek om plek te maak vir die groot nuwe gebou wat vandag twee impossante kroeë, ’n eersteklas restaurant met moderne kombuis en ’n fuksie-fasiliteit huisves.
Langs die klubhuis is daar ook ’n kunstenaarsverhoog waar van die land se bekendste kunstenaars al opgetree het, asook ’n TV-ateljee, waar Grizzlies TV se bekende Skop&Skrum program vir sosiale media opgeneem word.

Foto: Koos Venter
Intussen is die parkeer-area van die klubterrein opgegradeer, terwyl die nuutste gewilde toevoeging tot die klubfasiliteite die indrukwekkende waterpark is. Dié park met sy swembaddens, waterglybane, braai-area en eersteklas ablusiegeriewe vergelyk goed met enige vakansieoord. Dit bied aan die mense van die Weste die ideale piekniekterrein, waar daar veral oor naweke en in vakansietye kwaliteit gesinstyd gespandeer kan word.
Die klub beskik boonop ook oor netbalbane en ’n krieketveld, terwyl die paviljoen en kleedkamers onlangs weer opgegradeer en geverf is met die hulp van die Grizzlies se nuwe hoofborg, Van der Hoff Midas.
Al hierdie fasiliteite word in stand gehou deur Olivier en sy familie.
“Ek het ’n wonderlike familie wat my van die begin af bygestaan het met al my projekte by die klub. My pa is die terreinbestuurder, my ma bestuur die kombuis en kroeg en my kinders het basies op die terrein grootgeword, terwyl my vrou boonop moes help om my balans tussen die klub en die besigheid gesond te probeer hou,” het Olivier met Rekord se onlangse besoek aan die klub vertel.
Sy pa, algemeen bekend as Oupa Olivier, is verantwoordelik vir die klub se terrein en daar kan onomwonde gesê word dat min ander klubs in Pretoria met die toestand van Tuine se velde kan kompeteer.
Met al hierdie geriewe wat oor slegs ’n dekade opgerig is, moes die ander drome ook gejaag word. Dit het soms rof gegaan en Olivier erken dat hy soms nie die maklikste mens is om mee saam te werk nie.
“Ja, ek maak soms mense kwaad. Maar ek is nie iemand wat wrokke ronddra nie. Baie manne wat in die verlede as vyande by die klub se hek uit is, kuier nou weer hier. Ek kan erken as ek verkeerd was en ek glo aan vergewe en vergeet ter wille van ’n groter ideaal,” het Olivier gesê.
Wel, wat enigiemand se opinie ookal is oor dié dinamiese klubadministrateur en sakeman, een ding kan niemand ontken nie. Hy het by die Tuine Sportklub dinge reggekry wat bittermin ander mense – selfs mense met groter hulpbronne – hom kon nadoen.
Die klub is nou waar Olivier dit tien jaar gelede in sy drome gesien het – dis die sosiale hoofkwartier vir die mense van die Weste en dit spog met eersteklas fasiliteite, terwyl die Grizzlies nou deel is van die Bulle se Carltonbekerliga en sodoende vir seuns van die Weste geleenthede bied om raakgesien te word vir hoër louere.
Die Tuine Sportklub is ’n voorbeeld van hoe ’n gemeenskapsklub moet lyk in die moderne era, waar klubsport stelselmatig besig is om na vroeëre gloriedae terug te keer voor die beroepsera dinge kom beduiwel het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
