Bulls karnuffel Sharks, neem voortou op Rainbow Cup SA punteleer
Die Bulls het die voortou geneem op die punteleer van die Rainbow Cup SA toernooi, nadat hulle die eerste rondte van dié reeks voltooi het deur die Sharks met ’n skittervertoning te oorrompel op Lofus Versfeld.
Regte egte outydse Noord-Transvaal rugby. Dít is waarskynlik die beste manier om die vertoning van Jake White se Bulls te beskryf waarmee hulle die Sharks Saterdagaand op Loftus Versfeld met 43-9 pakslae gegee het.
Die legendariese ou spanne van Loftus uit die 1970’s en 1980’s is altyd met dié rugby-cliché beskryf as sou hulle wedstryde gewen het deur “sag te maak voor” en dan “hard te slaan agter”. Dít is presies van Duane Vermeulen en sy spanmaats Saterdagaand op Loftus teen die oorblufte span van die Sharks gedoen het.
Daar is vooraf baie gepraat oor die Durbaniete se puik rugby en dat hulle Pretoria toe kom om hul nederlaag in die Curriebeker eindstryd te kom wreek.
Maar White en sy mede bestuurslede se plan teen die Natallers het perfek gewerk en in die laaste kwartier van die wedstryd was die Sharks só “sag” gemaak, dat hulle uit was op hul voete, terwyl hulle nie eintlik in staat was om die Blou Golf te keer wat met drie drieë in tien minute ’n bonuspunt oorwinning verseker het nie.
Hoewel sommige “kenners” die rugbypubliek anders wou laat glo, het die Sharks eintlik van die afskop af swaargekry in die vaste fasette. Hulle was onder druk in die lynstane en stelselmatig is groot name soos Ox Nché en Thomas du Toit ook onder groot druk geplaas in die vaste skrums deur die jong stutte van die Bulls, Gerhard Steenekamp en Morné Smith.
Die besoekers het met skoptaktiek probeer momentum bou, maar dit het ook nie gewerk nie, aangesien hulle by die afbreekpunte nie kon oorheers nie.
Só is die Sharks se energie én selfvertroue stelselmatig afgebreek. Toe die Bulls hul twee Springbok voorrymanne, Trevor Nyankane en Lizo Gqoboka, in die tweede helfte opstuur, was die koeël deur die kerk en die Sharks permanent aan die omdraai en op verdediging.
Agter die pak voorspelers wat alle aspekte oorheers het, was Morné Steyn brilljant en sy puik balverspreiding, asook akurate skopwerk het ’n groot rol gespeel in die blitzkrieg van drieë wat die span in die laaste kwart van die wedstryd kon druk.
Van verdediging gepraat, dít is waarskynlik ook een van die Bulls se nuwe geheime wapens. Na drie wedstrdye in die nuwe kompetisie het hulle reeds agt drieë gedruk en slegs een afgestaan.
Saterdagaand se vertoning teen die Sharks was klassiek en ’n teken van ’n span wat hul selfvertroue en kalmte op die veld kry uit goeie afrigting, fiksheid en die byna perfekte mengsel van ervare sterre en jong opkomende spelers.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.









