Eerste plaaslike post-Covid fietswedren reeds eerskomende naweek aangebied
Vir die eerste keer sedert die Covid-19 krisis alle sport tot stilstand geruk het, kan Pretorianers eerskomende naweek uitsien na ‘n kompeterende fietswedren wat binne die grense van die Tshwane Metro aangebied word.
Die Bestmed Tshwane Classic wedren is die eerste keer in 2018 aangebied om die stad se toeriste- bestemmings te promoveer, fietsry te bevorder en om verskeie welsynsprojekte in die stad te ondersteun. Die wedren, wat byval gevind het by die fietsrygeeenskap, het by die Voortrekker Monument begin en geëindig. Dit het in 2019 gegroei tot die derde grootste wedren in die land. Toe kom Covid-19 ongelukkig in 2020 en die wedren moes uitgestel word. Baie ryers het verlede jaar reeds vir die wedren ingeskryf voor die inperkings aangekondig is. Die aanbeiders van die wedren, Hectic Promotions, staan steeds by hul beleid om geen persoon skade te laat lei as gevolg van iets wat buite die beheer van alle partye gebeur het nie en daarom word die wedren nou op die eerste geleentheid wat deur Fietsry SA goedgekeur is, eerskomende Sondag op 23 Mei, aangebied. Weens die Tshwane Metro se eie verliese en logistieke probleme is besluit om wedren te skuif na ’n terrein buite die stad om te bespaar op die aantal verkeersbeamptes. Dit sal ook verseker dat die ryers minder kontak het met persone in die strate, wat help ten opsigte van Covid-regulaies. Fietsryers behoort opgewonde te wees oor die terrein waar die wedren aangebied gaan word, Die wegspring en eindpunt is by Legends MX Gauteng baan buite Rayton net oos van Pretoria. Die terrein is groot en daar is pragtige fasiliteite op die Renosterplaas beskikbaar. Volgens die organiseerders is die roetes baie mooi en die ryers se veiligheid sal ook ’n baie hoë prioriteit vir die organiseerders wees. Daar sal genoeg polisiemanne, verkeersbeamptes en fietsrybeamptes op die roetes wees. Volledige inligting oor die roetes en inskrywings is beskikbaar op Hectic Promotions se webwerf by www.hecticpromotions.co.za . Ryers kan ook vooraf inskryf by www.cycleevents.co.za. Deelnemers kan kies tussen afstande van 92km, 60km of 20km.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
