Centurion laat die oë rek met reuse oorwinning oor Naka Bulle
Met die uitsondering van die invloed van die nuwe Covid-vlaag, is daar na aanleiding van die afgelope naweek se Carltonbeker klubrugby-askie baie om oor opgewonde te wees en na uit te sien vir rugby op hierdie vlak tydens die res van die seisoen.
Slegs twee wedstryde in die Blou Bulle se Carltonbeker liga kon die afgelope naweek afgehandel word, nadat die nuwe vlaag van Covid-19 verspreiding weer ’n invloed op die klubrugby aksie gehad het.
Die Grizzlies van Tuine, wat so lank moes wag om weer in hierdie liga te kan speel, se toetrede tot Carltonbeker rugby is wéér vertraag, toe hul tweede wedstryd agtereenvolgens weens die virus-krisis uitgestel moes word. Ironies genoeg is die Tuine-manne almal gesond en gereed vir aksie, maar vir die tweede week agtereenvolgens kon hul wedstryd nie voortgaan nie, weens hul teenstanders se Covid probleme. Hierdie week was dit Harlequins waar die virus toegeslaan het, terwyl Pretoria verlede week probleme gehad het.
Daar het dus die naweek slegs twee wedstryde plaagevind en beide was drieëfeeste, wat besonder opwindende rugby opgelewer het gegewe die agtergrond waarteen die seisoen onlangs begin het.
’n Ander faktor wat sedert die eerste rondte van die toernooi verlede week ’n invloed op die klub-aksie het, is die betrokkenheid van die professionele Bloubul spelers wat aan die klubs toegewys is. Al vier die klubs wat die naweek in aksie was, het van hul professionele spelers gebruik gemaak.
Die afgelope naweek se aksie en uitslae het gewys dat dié manne nou al hoe beter by die klubs inskakel en dat sommige van hulle selfs puntemakers vir die klubs was.

Foto: Facebook
– Die toernooi het sommer in sy tweede week die eerste groot verrassing opgelewer. Terwyl ABE Midas Naka Bulle die afgelope paar seisoene loshande die top oopklub in die liga was, lyk dit of hulle skielik groot opdraende van Centurion en die Northam Rhinos kan verwag.
Centurion het vir ’n ligte opskudding in klubrugbygeledere gesorg toe hulle ABE Midas Naka Bulle die afgelope naweek – nogal op die manne van die Moot se tuisveld – met 47-19 geskok het.
Dit was veral Centurion se aanslag in die eerste helfte wat ABE Midas Naka Bulle hard getref het. Terwyl die tuisspan baie foute gemaak het en gesukkel het om momentum te bou, was Centurion se samespel soms skitterend, terwyl hulle oor die algemeen skerper op die aanval gelyk het.
Na drie drieë in die eerste skof het Centurion met 25-0 voorgeloop teen rustyd.
Hoewel Louis van Biljon en sy makkers met ’n groot poging teruggekom het na die omdraaislag, was hulle net te wisselvallig om die gaping op die telbord te laat krimp. ABE Midas Naka Bulle het drie keer gaan druk, maar byna elke keer het Centurion kort na hul teenstanders se punte teruggslaan met ’n drie van hul eie.
ABE Midas Naka Bulle het nooit bes gegee nie en aanhou veg tot teen die einde, maar Centurion se afronding was uiteindelik net beter.
– Die groot telling in die wedstryd tussen Tuks en Pretoria was nie werklik ’n verrassing nie. Die studente, wat waarskynlik oor baie meer ervaring beskik, het baie fikser en skerper as hul teenstanders voorgekom en hulle het elf drieë ingeryg om uiteindelik met 77-17 te wen.
Die manne van Pretoria, wat met die uitsondering van Bloubul spelers soos Jan Uys, Reynard Roets, Jan-Hendrik Wessels en David Kellerman in hul geledere nie baie ervare is op hierdie vlak nie, het boonop in hul eerste wedstryd van die seisoen gespeel.
Pretoria het egter hul diepte as oopklub gewys toe hul tweedespan Tuks met 38-33 geklop het.
– Die Northam Rhinos, wat Centurion verlede week net-net geklop het, het die afgelope naweek ’n loslootjie gehad.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.








