Local sportSport

Tuine se Grizzlies skok Tuks in eerste Carltonbeker wedstryd

Terwyl die voortslepende Covid-krisis die laaste sê gehad het in twee belangrike bepalings van die Carltonbeker klubrugby toernooi die afgelope naweek, het die uitslag van die enigste wedstryd wat wel plaasgevind het skokgolwe deur die klubrugby gemeenskap van Pretoria gestuur.

Te midde van groot frustrasie weens die invloed wat die Covid-krisis steeds het op klubrugby in Pretoria, het die enigste Carltonbeker wedstryd wat die afgelope naweek kon plaasvind ’n skok-uitslag opgelewer toe die nuwelinge, Tuine Grizzlies, die verdedigende kampioen, Tuks, in hul eerste wedstryd oortuigend met 30-14 geklop het.

Tuine se Grizzlies het erge frustrasie beleef het toe hul eerste twee bepalings onderskeidelik teen Pretoria en Harlequins uitgestel moes word weens Covid-verwante probleme.

Die opgewondenheid en afwagting was dus reeds groot in die Grizzlies se kamp, maar min kenners sou hulle vooraf ’n kans gegee het om Tuks te klop. Die studente het immers ’n week tevore die ander nuwelinge in die liga, Pretoria, behoorlik afgestof.

Hoewel Tuks se tweede- en derdespanne Saterdag redelik maklik met hul teenstanders van Tuine afgereken het, was die eerstespan waarskynlik nie voorbereid vir die aanslag waarmee hul eweknieë van die Grizzlies hulle ingewag het nie.

Afrigters Kobus Lottering en Braam Pretorius het hul huiswerk behoorlik gedoen en die Grizzlies het Tuks veral in die eerste helfte verras met die intensiteit waarmee hulle gespeel het. Die tuisspan het Tuks in alle aspekte van die spel tromp-op geloop en aan die studente bittermin kans gegee om hul natuurlike vloeiende spel te speel.

Teen rustyd was die manne van Tuine reeds met 15-0 voor en uiteindelik het hulle vier keer die doellyn oorgesteek, terwyl Tuks self slegs twee drieë kon druk.

Die ys is dus nou gebreek vir die manne van die Weste en ná hierdie bonuspunt-oorwinning sal die ander klubs hulle waarskynlik nie maklik onderskat nie. Hulle sou beslis ten minste kennis geneem het dat die Grizzlies op hul tuisveld in die Weste nie sonder ’n reuse stryd oorrompel sal word nie.

Beide Tuine en Tuks het van hul professionele Bloubul spelers gebruikgemaak in die wedstryd. Die Bulls agtsteman en Blitsbok, Tim Agaba, het Tuks aangevoer, terwyl Richard Kriel op senter en WJ Steenkamp op agtsteman vir die Grizzlies diens gedoen het. Kriel was een van die Grizzlies se driedrukkers.

– Ernstige kommer heers tans oor die reuse invloed wat die Covid-krisis steeds op klubrugby het en op dié vlak gaan dinge tans maar met rukke en stote, aangesien daar weekliks wedstryde uitgestel word weens spanne wat as gevolg van die invloed van die virus nie hul verpligtinge kan nakom nie.

Terwyl daar in die eerste twee naweke sedert die begin van die Carltonbeker liga weekliks slegs een wedstryd weens Covid-verwante probeleme nie kon plaasvind nie, het dit die afgelope naweek gegroei na twee bepalings.

Die kragmeting tussen die Northam Rhinos en Harlequins sowel as die wedstryd tussen ABE Midas Naka Bulle en die Pretoria Rugbyklub moes uitgestel word, toe die virus in die kampe van Quins en Pretoria toegeslaan het.

Pretoria se voorsitter en hoof-afrigter, Jaco Basson, het die ergste deurgeloop en hy was verlede week selfs in die waakeenheid van ’n plaaslike hospitaal, nadat die virus hom platgetrek het. Volgens familie en vriende het sy toestand later stelselmatig verbeter.

Centurion het die afgelope naweek ’n loslootjie gehad.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button