Baie Carltonbeker aksie in vierde rondte ná Covid-vrye week by klubs
Na heelwat onderbrekings in die eerste drie weke van vanjaar se Carltonbeker klubrugby toernooi, was daar die afgelope naweek volop aksie met drie wedstryde wat afgehandel kon word.
Vir die eerste keer sedert die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker klubrugby toernooi van die 2021 seisoen aan die begin van Meimaand afgeskop het, kon daar die afgelope naweek drie bepalings afgehandel word.
Nadat Covid-protokolle in die eerste drie weke elke naweek ’n wedstryd of twee in die slag laat bly het, kon die aksie van week vier sonder probleme voortgaan.
– Hoewel daar in week vier nie werklik enige groot verrassing was nie, het Centurion weer gewys dat hulle vanjaar beslis ’n span is om mee rekening te hou. Centurion het die nuwelinge in die toernooi, Pretoria Rugbyklub, behoorlik gekarnuffel om uiteindelik met 49-7 te wen.
Centurion se oorheersing het weer voorlangs begin, waar Pretoria nie veel raad gehad het met die manne uit die suide se kragspel nie.
Agter dié oorheersende pak voorspelers het Centurion se losskakel, Quinton van Schalkwyk, sake goed beheer en sy vinnige en vaardige buite-agterspelers het baie hardloopkans gekry.
Beide spanne het van hul professionele Bloubul spelers gebruik gemaak en dit was veral Bernard van der Linde wat weer gewys het dat ’n groot toekoms op hom wag. Dié talentvolle speler is eintlik by die Bulls as skrumskakel gekontrakteer, maar speel die afgelope paar weke skitterende rugby vir Centurion op vleuel. Hy het Saterdag weer die verdediging van Pretoria moedeloos gehad met sy vermoëns op die aanval en uiteindelik kon hy spog met vier van Centruion se sewe drieë agter sy naam.
Die groot, sterk senter, Christiaan Burger is deesdae beseringsvry en hy speel weer die soort rugby wat van hom enkele seisoene gelede ’n ster in Centruion se span gemaak het.
Vir Pretoria het die groot Bloubul slot, Jan Uys, inklimspel gelewer en veral in die lynstane ’n baie waardevolle bydrae gemaak.
– Na die pakslae wat ABE Midas Naka Bulle twee weke gelede teen Centurion gekry het, moes Marinus van der Watt se manne terug na die tekenbord om weer op koers te kom. Verlede week is hul wedtryd teen Pretoria boonop weens Covid regulasies uitgestel.
Dit het beteken dat hulle die afgelope naweek letterlik in die leeukuil moes instap om hul selfvertroue terug te kry toe hulle na Northam in Limpopo moes reis om die omgekrapte span van die Northam Rhinos daar aan te durf. Die manne van die Moot het intussen ’n paar staatmakers terugverwelkom in hul span, wat hul geledere beslis versterk het.
Simphiwe Matanzima was die Bloubul gekontrakteerde speler in ABE Midas Naka Bulle se geledere, terwyl die terugkeer van die ervare oud-Bul, Kefentse Mahlo, ook ’n groot verskil gemaak het. Saam met hom het die nuwe skakelpaar, Etienne Storm en Charles Goedhals, baie beter ritme agterlangs vir die Moot-manne gebring.
Die Rhinos het Centurion in week een geklop, wat hulle na dese sekerlik een van die gevaarlikse spanne in die liga maak.
Nadat die tuisspan oudergewoonte van die afskop af die pap dik aangemaak het, was hulle teen rustyd met 12-5 voor. ABE Midas Naka Bulle se manne kon egter vasbyt en in die tweede helfte terugveg met twee drieë teen een om ’n gelykop telling van 17-elk af te dwing. Met ’n bietjie geluk ten opsigte van ’n paar stelskoppe wat net-net misluk het, kon ABE Midas Naka Bulle selfs teruggekeer het na Pretoria met ’n oorwinning.
– Na hul skok-nederlaag teen Tuine se Grizzlies, het Tuks hulself die afgelope naweek reggeruk. Hulle moes egter steeds baie hard werk om Harlequins met 30-23 te klop.
Tuks se afrigters het behoorlik die snoeisker ingelê en groot veranderings aangebring vir die wedstryd. Die twee Bloubul spelers, Muller Uys op agtsteman en Clinton Swart op senter, het beslis ’n verskil gemaak.
Met die voormalige Junior Springbok en Bloubul speler, Vaughen Isaacs, op losskakel, het Harlequins opwindende hardlooprugby gespeel en drie mooi drieë via hul twee vleuels, Connor Mahoney (2) en Werner Schoeman gaan druk.
Tuks se beter wedstrydfiksheid het aan hulle ook ’n groot voordeel verskaf, wat veral in die tweede helfte duidelik was. Harlequins se spelers was weens Covid-regulasies drie weke gelede laas in aksie.
– Tuine se Grizzlies het die afgelope nawek ‘n loslootjie gehad.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



