Nuwe geelwortel vir klubspelers kan Carltonliga se intensiteit verder verhoog
Na vyf weke is daar slegs een onoorwonne span in die Carltonbeker oor en dit is duidelik dat die seisoen nog baie opwindende rugby gaan oplewer.
Week vyf van die 2021 Carltonbeker klubrugbytoernooi is die afgelope naweek afgehandel en ná die naweek se uitslae word dit duidelik dat daar nog baie opwinding wag in hierdie prestigeryke toernooi. Hoewel Northam se Rhino’s na vyf rondtes die enigste onwoorwonne span in die toernooi is, kan die Bosvelders sekerlik nie onomwonde nou reeds as ’n gunsteling beskou word nie. Trouens, dit sal ’n waagstuk wees om op hierdie stadium enige gunsteling uit te wys, want dit is duidelik dat daar nog baie rugby gespeel moet word voor die Carltonbeker kampioen van 2021 gekroon kan word. Nie een van die spanne kan op hierdie stadium reeds afgeskryf word nie. Intussen het klubspelers ’n nuwe geelwortel voor hul neuse gekry, wat ongetwyfeld tot groot inspirasie by spelers op hierdie vlak sal lei. Daar is deur die Blou Bulle bekendgemaak dat agt klubspelers reeds uitgenooi is om saam met die Bulls se Curriebeker groep te oefen. Dié toernooi begin oor twee weke op die naweek van 19 Junie en sal oor twee rondtes gespeel word, terwyl die Bulls daardie naweek waarskynlik ook nog in die Reënboogbeker eindstryd teen ’n noordelike halfrond span betrokke kan wees. Intussen lê daar ook ’n lang seisoen vir die Springbokke voor met die toer van die Britse Leeus en die Rugby Kampioenskap later vanjaar, terwyl die Bulls self ook teen die Britse Leeus gaan speel. Indien meer Blou Bulle by die Springbokspanne betrek word, soos verwag word, sal daar leemtes ontstaan, aangesien professionele franchises deesdae nie meer as 45 spelers mag kontrakteer nie. Dis hier waar die deur oop kan gaan vir top klubspelers om Curriebeker rugby vir die Blou Bulle te speel. Hoewel daar tans net agt spelers genooi is om saam met die Blou Bulle te oefen, kan hierdie getal uitgebrei word as dit nodig sou word. Die Northam Rhinos se haker, Sydney Tobias, is na verneem word een van die spelers wat deur die Blou Bulle nadergetrek is. Die 32-jarige Tobias het in sy loopbaan al vir die WP, Blou Bulle en Griekwas uitgedraf. – Die grootste oorwinning van die week het plaasgevind in Northam, waar die Rhinos agt drieë gedruk het om die nuweling in die liga, Pretoria Rugbyklub, met 50-5 kaf te draf. Pretoria moes hierdie week sonder hul Bloubul slot, Jan Uys, klaarkom en hulle het veral voorlangs harde bene gekou. Agterlangs kon Pretoria darem op die diens van die Bloubul speler Dawid Kellerman staatmaak, maar met die Rhinos se oorheersing voorlangs was daar min salf te smeer aan Pretoria se probleme. – Tuks het die afgelope naweek hul diepte gewys toe ’n span sonder enige Varsitybeker eindstrydspelers òf Bloubul gekontrakteerde spelers dit reggekry het om die sterk span van Centurion met 50-29 te klop. Tuks het agt keer die doellyn oorgesteek, terwyl Centurion self ook ’n bonuspunt verdien het met vyf drieë. Vir Centurion sal hierdie nederlaag ’n groot terugslag wees, nadat hulle vroeg in die kompetisie gelyk het na ’n span wat vanjaar in ’n baie gedugte eenheid kan ontwikkel. – Nog ’n klub wat besig is om stadig maar seker terug te keer na die soort vorm wat van hulle oor die afgekope paar seisoene die top oopklub in die liga gemaak het, is ABE Midas Naka Bulle. Die manne van die Moot het hul bure in die Weste van Pretoria, Tuine se Grizzlies, die naweek op laasgenoemde se tuisved aangevat. Hoewel die Grizzlies goed begin het en in die eerste helfte twee keer gaan druk het, het ABE Midas Naka Bulle in die tweede skof die oorhand gekry. Teen rustyd was die telling nog 12-10 in die besoekers se guns, maar daarna kon die Grizzlies nie weer punte aanteken nie en ABE Midas Naka Bulle het 33 onbeantwoorde punte opgestapel om met 45-10 te wen.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
