Steeds min te kies tussen top spanne in Carltonliga
Na ses weke van aksie is daar steeds min te kies tussen die top spanne in die Carltonbeker klubrugbyliga en puik rugby is opgedis in die twee wedstryde wat die afgelope naweek afgehandel is.
Die voortslepende Covid-19 krisis het ongelukkig die afgelope naweek wéér ’n invloed op die verloop van die Carltonbeker klubrugby-liga gehad, toe die bepaling tussen Tuine se Grizzlies en die Northam Rhinos uitgestel moes word.
Dit is die derde bepaling van Tuine wat ’n slagoffer van die virus word en dié klub sal duime vashou dat die verlore wedstryde wel voor die afloop van die seisoen iewers ingepas kan word.
Die enigste span wat tot dusver gesukkel het om op dreef te kom, Pretoria Rugbyklub, het die afgelope naweek ’n loslootjie gehad.
— ABE Midas Naka Bulle het hul tweede gelykop uitslag van die toernooi behaal, toe Marinus van der Watt se manne daarin kon slaag om die louere in hul wedstryd op hul tuisveld in die Moot met Tuks te deel. Die eindtelling was 28-elk.
Tuks, wat verskeie spelers van hul groter Varsitybeker groep terugverwelkom het in hul geledere, sal egter die span wees wat baie meer vreugde kan put uit hierdie uitslag, aangesien die tuisspan inderdaad beter verdien het.
Die grootste les wat ABE Midas Naka Bulle egter uit dié wedstryd sou leer, is dat hul skopwerk na die pale dramaties sal moet verbeter as hulle sulke taai tweedstryde in hierdie moeilike liga wil wen. So, byvoorbeeld kon die tuisspan se skoppers nie een van hul vyf drieë in die wedstryd verdoel nie, wat uiteindelik ’n verlies van 10 belangrike punte beteken het. Net een suksesvolle doelskop sou die verskil tussen wen en ’n gelykop uitslag beteken het.
ABE Midas Naka Bulle het veral die eerste helfte oorheers en hulle was teen rustyd reeds met 23-7 voor, maar Tuks is toegelaat om met drie drieë – waarvan die laaste in die doodsnikke van die wedstryd gedruk is – die agterstand uit te wis.
Op die keper beskou groei ABE Midas Naka Bulle se nuwe span met baie jong gesigte egter weekliks, en teen hierdie tempo behoort hulle teen die einde van die seisoen ernstige aanspraakmakers op ’n plek in die eindstryd te wees.
Tuks het weer gewys dat hulle altyd kompeterend sal wees en dat geen ander span in die liga met hul ten opsite van diepte kan saampraat nie.
— Betway Centurion het Saterdag op hul tuisveld weer op die wenpad gekom met ’n kliniese vertoning teen Harlequins, waarin hulle veral in die tweede helfte momentum kon bou om met 31-14 te wen.
Die manne van Groenkloof het die wedstryd op volspeod begin en voor die eerste minuut op die horlosie kon aftik, was regtervleuel Connor Mahoney agter die doellyn, nadat die spring van die bal hom in staat gestel het om ’n paar verdedigers te uitoorlê.
Die tuisspan het drie minute later teruggeslaan met ’n netjiese voorspelerdrie vanaf ’n lynstaan-dryfbeweging.
Quins het egter bloed geruik na hul sukses so vroeg in die wedstryd. Slim spel deur skrumskakel Ruaan du Preez het Betway Centurion aan die slaap gevang en hy kon sy span se tweede drie gaan druk.
Betway Centurion het wéér byna dadelik teruggeslaan en gewys waartoe hulle in staat is deur die bal deur verskeie fases te neem voordat die slot, Marcus Mostert kon oorduik.
Teen rustyd was Harlequins nog met 14-12 voor, maar in die tweede skof het die tuisspan behoorlik beheer van die wedstryd oorgeneem. Hulle het gebiedsvoordeel en besit oorheers en net ongedwonge foute het hulle van ’n groter oorwinning weerhou.
Twee drieë deur deur hardwerkende flank, Ettienne Matthys, asook ’n strafdrie wat die tuisspan se oorheersing in die vaste skrums beklemtoon, het uiteindelik vir die gerieflike oorwinning gesorg.
Harlequins se agterlyn was deurlopend gevaarlik en hul twee senters het die verdedigers van Betway Centurion die heel middag besig gehou. Die grondslag vir Betway Centurion se oorwinning is egter oudergewoonte voorlangs gelê, waar hul vurige haker, Jason Cornelius, veral sy spanmaats aangespoor het met sy inklim spel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.








