Local sportSport

Montana seun is Gauteng se nuwe bergfiets kampioen

’n Matriekseun van Montana is onlangs as Gauteng se kampioen bergfietsryer aangewys en gereken aan sy prestasies van die afgelope jare kan hy nog ’n groot naam in dié gewilde sportsoort word.

Hoewel Nathan Naudé, matriekseun van Hoërskool Montana in Pretoria eers as graad 8 leerling ernstig op sy fietsryloopbaan begin konsentreer het, het sy teenstanders sommer gou agtergekom dat hulle hóm beslis ernstig moet opneem. Ná ’n rits prestasies op sy bergfiets die afgelope vyf jaar, het Naudé onlangs die kersie op die koek van sy fietsryloopbaan tot dusver geplaas, toe hy aangewys is as Gauteng kampioen van die XCO-bergfietsreeks. In die proses het Naudé ook sy Gauteng kleure as bergfietsryer verdien. Dit het alles vir hom begin toe hy nog ’n voorskool knapie was en gereeld vir die pret saam met sy pa gaan fietsry het. Hy was gou ’n bedrewe ryer, maar eers nadat hy hoërskool toe is het Naudé dié sport ernstiger begin opneem en vir wedrenne begin inskryf. Later het hy deel geword van The Coaching Corner se span, waar hy deur afrigter Lionel Scholtz onder hande geneem is.

Nathan Naudé, ’n matriekleerling aan die Hoërskool Montana in die noorde van Pretoria, is ’n bergfietsryer met ’n groot toekoms in dié gewilde sportsoort.
Foto: Koos Venter

Twee jaar gelede, in sy graad 10 jaar, het Naudé begin uitblink en sy eerste oorwinning in ’n Spur skoleliga wedren behaal. Daardie jaar het hy uiteindelik 12de geëindig in die nasionale Spur reeks, terwyl hy twee silwer medaljes gewen het in die XCO Cup-reeks. Plaaslik het hy in 2019 puik presteer in die Gauteng-Noord Spur reeks en uiteindelik derde geëindig. Dit het beteken dat hy gekies is om Gauteng-Noord in die nasionale Spur reeks te verteenwoordig en aan die einde van die 2019 seisoen het Hoërskool Montana hom aangewys as hul senior fietsryer van die jaar. Hoewel 2020 se fietsrykalender – soos in die geval met die meeste ander sportsoorte – erg deur die Covid-19 krisis geaffekteer is, kon daar wel ’n paar wedrenne in die XCO-Cup reeks plaasvind en Naudé het daarin gewys dat hy ’n faktor geword het waarmee almal moet rekening hou. Na ’n derde plek in die tweede wedren van die XCO-Cup is hy later as die XCO-provinsiale junior kampioen gekroon. Daarna het hy in 2020 op die Trailseeker reeks gekonsentreer en na vyf wedrenne in dié reeks kon hy spog met drie top-5 plekke en twee top-10 plekke. Naudé het in die 2021 seisoen op hierdie vordering voortgebou. Hy is eerstens vanjaar as kaptein van Hoërskool Montana se bergfiets span gekies. Uit vyf XCO-Cup wedrenne het hy vier keer die podium gehaal, waaronder twee eersteplekke. Hy het dié reeks afgesluit deur as Gauteng kampioen gekroon te word. https://youtu.be/BQIptfx5AgU As provinsiale kampioen sal hy later vandeesmaand deelneem aan die XCO nasionale kampioenskap in Pietermaritzburg. Vroeër vanjaar het hy ook aan die Buffelsdrif been van die Trailseeker reeks deelgeneem en as junior eindig hy algeheel derde. Naudé beoog om volgende jaar by Soltech in Pretoria vir ’n ambag as masjienmonteur te studeer, maar fietsry sal beslis deel bly van sy lewe en sy drome. Bergfietsry is al langer as twintig jaar deel van die Olimpiese Spele en dit is dus nie vreemd om te hoor dat deelname aan dié globale sport skouspel ook deel is van Nathan Naudé se drome nie. Intussen sal hy sy merk maak op die bergfiets roetes van Suid-Afrika en dit lyk of ons nog baie gaan hoor van dié skugter jongman wat wéét hoe om die speke te laat sing.  

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Back to top button