Local sportSport

Jake White op koers met groep-stelsel vir toekoms

Die Bulls se oorwinning teen die SA-‘A’ span het gewys dat die bestuur op Loftus Versfeld se fokus en visie vir die toekoms op die regte koers is, solank hulle die slaggate kan vermy van al die faktore wat hul vordering in die unieke Suid-Afrikaanse opset kan strem.

Vir die gewone rugby-ondersteuner voel dit waarskynlik of die huidige rugbyseisoen een groot chaotiese gemors is.

Wedstryde word links en regs gekanselleer, spelers toets positief vir Covid al is hulle in sogenaamde “bio borrels” en om alles te kroon kry mens tans die gevoel dat die huidige toer van die Britse en Ierse Leeus inderdaad reeds in vele opsigte ’n klaaglike mislukkig is – die grootste anti-klimaks wat Suid-Afrikaanse sport in dekades beleef het.

Dis ’n feit dat hierdie Covid-krisis Suid-Afrikaanse sport oor die algemeen op ’n baie slegte tydstip in ons geskiedenis getref het. Suid-Afrikaners sien op TV hoe kuier die Britte op stamvol paviljoene by Wimbledon en by die Britse Ope gholftoernooi. Hulle sien ook hoedat daar reeds groot hoeveelhede toeskouers toegelaat is by die eindstryde van rugbyreekse in Europa, soos die Engelse Premierliga, die Franse Top-14 liga en die Europese Beker-reeks. Dan word daar baie vrae gevra oor die wyse waarop die krisis hier hanteer is en die skade – finansieel en sosiaal – wat dit aan die sport-industrie berokken het.

Die erns van hierdie situasie in Suid-Afrika is vergroot vanweë die feit dat dit gebeur het teen ’n agtergrond van groeiende apatie onder Suid-Afrikaanse sportliefhebbers weens redes wat absoluut niks met die Covid-krisis te doen het nie.

Die Bulls se briljante jong haker, Johan Grobbelaar, het Saterdag met sy vertoning teen die SA-‘A’ span vir die nasionale keurders tong uitgesteek. Dat Grobbelaar volgens dié manne tans nie onder die land se beste ses hakers tel nie, is lagwekkend.
Foto: Twitter

As hierdie Covid-hoofstuk die dag afgesluit word sal die mense in bestuur van groot sportsoorte soos rugby en krieket op alle vlakke fyn moet trap om eerstens die bloeding te stop en tweedens die geloofwaardigheid en bemarkbaarheid van die sportsoorte weer te herstel. Dit is tyd dat daar weer gekonsentreer word op dit wat regtig saakmaak – die prestasie van sportspanne in ’n geloofwaardige milieu.

Teen hierdie agtergrond is daar goeie nuus vir die sogenaamde Bloubul familie. Die afgelope naweek se 17-14 oorwinning van ’n jong Bulls span oor die Suid-Afrikaanse “A”-span het baie groter betekenis as net spogregte vir Bulls ondersteuners.

Hierdie oorwinning én die wyse waarop die Ligbloues gespeel het om dit te kan doen, het daarop gedui dat die Bulls die een unie in Suid-Afrika is wat die opbou van ’n behoorlike groep-sisteem met genoegsame diepte in alle posisies verstaan en pro-aktief daaraan werk.

As daar nog enige twyfel is dat die Bulls bestuur die regte skuif gemaak het toe Jake White sowat 15 maande gelede as nuwe Direkteur van Rugby aangestel is, het Saterdag se wedstryd teen ’n span vol internasionale sterre waarskynlik die twyfel laat verdwyn.

Natuurlik het White ook ’n paar foute gemaak oor die afgelope 15 maande. Maar as die situasie op die keper beskou word en vergelyk word met waar die Bulls teen Maart 2020 was voor die Covid-krisis toegeslaan het, kan enigiemand met die vermoë om perspektief te behou die verskil sien.

Die moontlikheid op sukses in die toekoms vir Suid-Afrika se provinsiale franchises sal gebou word op drie pilare.

Die jong slot van die Bulls, Ruan Nortjé, het Saterdag teen die SA-‘A’ span weer gewys dat hy ’n toekomstige superster is en hy kan sekerlik nie baie ver van Jacques Nienaber en Rassie Erasmus se Springbok planne wees nie. Die Bokke het tans ’n skaarste aan fikse slotte en dié hardwerkende jong Bul sal geen Springbokspan in die steek laat nie.
Foto: Twitter

Eerstens, wat die vertonings op die veld betref,  sal daar diepte in die groep moet wees met ’n behoorlike balans tussen ervare sterre en talentvolle jongelinge.

Tweedens sal daar ’n bestuurspan rondom hierdie groep moet wees wat hulle behoorlik kan toerus as spelers, die span gedurig moet kan versterk met die regte visie vir die toekoms en natuurlik ook die vermoë moet toon om die groep en hul leieirskorps só te bou en bestuur dat daar kohesie sal wees. ’n Gelukkige span is ’n wenspan.

Derdens sal die Bulls se bemarkbare beeld na buite gebou moet word met die fokus op die regte plekke. Die huidige bestuur van die Blou Bulle rugby-unie doen hiermee uitstekend. Die belangrikste punt wat hier in gedagte gehou moet word is dat ons leef in ’n baie klein wêreld weens faktore soos sosiale media. Ons leef in ’n land waar mense maklik apaties raak as hul intelligensie onderskat word of hul lojaliteit uitgedaag word met uitgediende retoriek en kantlyn-politiek.

Kyk maar gerus na krieket in Suid-Afrika as voorbeeld van hoe dit nié gedoen word nie.

Die Bulls het die afgelope 15 maande baie dinge reg gedoen om weer die toonaangewende rugby-naam in Suid-Afrika te wees. Die regte manne is duidelik nou in beheer om die gevreesde Blou Bul van ouds te laat herrys. Solank die fokus by rugby tussen die vier lyne op die veld bly – op alle vlakke, van Bulletjierugby tot by die spogspan van Loftus.

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button