Local sportSport

Groot tellings en ’n verrassing met voortsetting van Carltonbeker toernooi

Ten spyte van die lang onderbreking in Carltonbeker aksie weens Covid-regulasies, was daar die afgelope naweek volop aksie en opwinding toe Pretoria se top rugbyklubs teruggeeer het na die speelveld.

Die Northam Rhinos het die afgelope naweek Centurion Rugbyklub se partytjie bederf toe hulle teen die verwagting ’n oorwinning oor ’n sterk Tuks-span in die Carltonbeker klubrugby toernooi behaal het.

Carltonbeker aksie is die naweek hervat, na ’n gedwonge reses van meer as ’n maand weens Covid regulasies en inperkings. Hoewel dit in al drie die naweek se wedstryde duidelik was dat die spelers skerpheid en wedstrydfiksheid makeer, was die standaard van die aksie tog strykdeur besonder goed.

Daar is voor die afgelope naweek se aksie algemeen aanvaar dat Centurion geskiedenis sou maak deur die Lukas Strachan-skild die eerste keer ooit te verower indien hulle Tuine se Grizzlies kon klop en in die proses ook ’n bonuspunt kon verdien. Dié skild word toegeken aan die span wat na afloop van die toernooi se eerste rondte voorloop op die punteleer.

– In Hatfield op die Tuks Sportkampus het die Bosvelders van Northam egter ander planne gehad en hulle het Tuks verras met ’n oorwinnig van 34-33.

Hoewel die manne van Limpopo slegs drie keer die doellyn kon haal en dus nie ’n bonuspunt kon verdien nie, was dit ’n briljante skopvertoning deur hul losskakel, Danie Loots, wat die verskil gemaak het.

Loots het twee doelskoppe, vier strafdoele en ’n skepdoel behaal vir ’n persoonlike bydrae van 19 punte.

Tuks, wat gewemel het van spelers wat onlangs nog as Varsitybeker kampioen gekroon is, het hardlooprugby gespeel en vyf drieë gedruk, maar kon steeds nie die knoop deurhak nie.

Centurion sal nou moet wag om te sien wat gebeur in Northam se laaste twee eersterondte-bepalings teen Harlequins en Tuine, voordat hulle op die Lukas Strahan-skild aanspraak kan maak.

– In Groenkloof was dit die twee buurspanne aan weerskante van Totiusstraat, Harlequins en Pretoria, wat nie net in ’n Carltonbekerstryd betrokke was nie, maar ook meegeding het om die jaarlikse Naas Botha-trofee.

Dié trofee is enkele jare gelede ingestel as ekstra aansporing wanneer die Groenkloof derby plaasvind en Harlequins het Saterdag ’n feeswedstryd van dié bepaling gemaak deur tien drieë in te ryg vir hul oorwinning van 64-14.

Hoewel Pretoria nooit gaan lê of opgegee het nie, was hulle nie bestand teen Quins se aanslag nie, hoewel hulle darem self twee keer agter die doellyn kon gaan kuier.

Met dié oorwinning het Harlequins verseker dat hul bure steeds nog nie die Naas Botha-skild kon wen nie, terwyl hulle baie moed skou sekp uit die vertoning om die res van die seisoen met selfvertroue aan te pak.

– In Centurion het Tuine se Grizzlies opgedaag met die doel om nog ’n groot verrassing te lewer, nadat hulle vroeër in die seisoen met Tuks afgereken het.

Die Grizzlies het verwoed ingeklim en eerste punte aangeteken via die skopvoet van losskakel, Lusanda Xakwana.

Kort daarna is die tuisspan se groot senter en kaptein, Christiaan Burger, egter deur vir die eerste van sy twee – en sy span se nege – drieë.

Hoewel die eindtelling van 55-29 in die tuisspan se guns dui op oorheersing, was dit nie altyd so maklik nie.

Tuine het aanhou veg tot die einde, maar beter afronding en ’n gebrek aan kommunikasie en organisasie op verdediging het hulle duur te staan gekom. Tog kon hulle kort voor die eindfluitjie hul vierde drie gaan druk vir die waardevolle bonuspnt.

Voorlangs het Centurion oorheers, maar Tuine is nooit verneder nie en kon enduit hul man staan teen beter gekondisioneerde teenstand.

Terloops, die Grizzlies se vaskopstut, Werner van der Westhuizen verdien vermelding. In ’n pak voorspelers waar ervare manne soos Johan Liebenberg, die gewese Bloubul Vincent Gwavu en ’n Carltonbeker hardebaard, Sibongile Njomba, ook uitgestaan het, het dié jong vaskop beïndruk met sy skrumwerk, algemene spel en kanniedood-gees. As hierdie woelige voorryman die regte leiding kry en werk aan sy kondisionering, kan hy beslis rugby op ’n hoër vlak speel.

Vir Centurion het hul hele agterlyn uitgeblink, maar hul senterkombinasie het veral die oog gevang. Die span se bestuur sal hoop dat die beseringspook vir die res van die seisoen wegbly vir Burger en sy sentermaat, Kevin Osborne, want hulle kan as kombinasie ’n troefkaart wees teen enige opposisie.

Op vleuel het die veteraan, Curtley Brinkhuys, met ’n driekuns weer gewys hy weet hoe om af te rond.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button