Kan Northam se Rhinos gestuit word in hul historiese aanslag op die Lukas Strachan-skild?
’n Naweek van opwinding en spanning lê voor vir Bloubul klubrugby, wanneer die eerste rondte van die Carltonbeker liga eerskomende Saterdag afgehandel word met heelwat op die spel vir die betrokke spanne in dié liga.
Die telefoonlyne tussen Centurion en die Weste van Pretoria, waar die Tuine Sportklub langs Van der Hoff-weg geleë is, sal waarskynlik rooiwarm gebel word hierdie week.
Wie weet wat die beloftes tussen Centurion se afrigter, Riaan Brand, en sy eweknie van Tuine, Kobus Lottering, sal wees? Dalk ’n paar kaste van hul gunsteling Germaanse bruisdrankies? Dalk ’n skaapbraai én ’n paar bruisdrankies?
Feit is dat nét Tuine se Grizzlies nog die Carltonbeker klubspan uit Limpopo, die Northam Rhinos, kan stuit in hul aanslag om klubrugby geskiedenis te maak, wanneer die twee spanne die naweek op eersgenoemde se tuisveld in Pretoria-Wes ontmoet.
Hoewel dit ’n klipharde stryd gaan wees, is ’n oorwinning vir die Grizzlies gladnie onmoontlik nie. Terwyl hulle twee weke gelede teen Centurion verloor het, het hulle soms goeie rugby gespeel en selfs vier keer gaan druk vir ’n bonuspunt. Teen Pretoria die afgelope naweek het hulle sewe drieë ingeryg om met 47-22 te wen.

Foto: Facebook
Die manne van die Weste van Pretoria het dus beslis die span om die Rhinos te klop, maar hulle sal aan hul verdediging en dissipline moet werk om dié verrassing moontlik te maak.
Die eerste rondte van die Blou Bulle se Carltonbeker liga sal eerskomende naweek afgehandel word met dié belangrike wedstryd, asook een ander bepaling wat moet plaasvind. Pretoria Rugbyklub (tans geen ligapunte) speel teen ABE Midas Naka Bulle (tans 16 ligapunte), wat self ’n bonuspunt oorwinning sal jag, om die eerste rondte in die derde (of moontlik selfs die tweede) posisie op die punteleer af te sluit.
Centurion, Tuks en Harlequins se eersterondte bepalings is reeds afgehandel.
As Lottering se Grizzlies (tans 10 ligapunte) dit kan regkry om Northam (tans 21 ligapunte) te klop met ’n bonuspunt oorwinning, kan hulle by Harlequins (tans 11 ligapunte) verbyskuif en die eerste rondte in die vyfde plek op die punteleer afsluit.
In die geval van laasgenoemde scenario (en op voorwaarde dat die Rhinos dan geen ligapunte moet aanteken nie) sal die Grizzlies dus twee ander klubs ’n guns doen.

Foto: Facebook
ABE Midas Naka Bulle sal waarskynlik by Tuks (tans 19 ligapunte) verby te skuif na die derde plek met ’n oorwinning oor Pretoria. Maar teoreties sal ’n groot oorwinning vir die manne van die Moot en geen ligapunte vir Northam dit moontlik maak vir ABE Midas Naka Bulle om self na die tweede plek op te skuif.
Dan sal die Grizzlies met ’n oorwinning natuurlik ook vir Centurion (tans 23 punte) help om self geskiedenis te maak as hulle die Lukas Strachan skild vir die eerste keer ooit verower.
Dié gesogte skild word oorhandig aan die Carltonbeker span wat die eerste rondte van die liga bo-aan die punteleer afsluit.
Harlequins het self die geleentheid gehad om die Rhinios op hul historiese veldtog te stuit, maar die Bosvelders het die afgelope naweek alles gedoen wat van hul verwag is op hul missie toe hulle Harlequins op hul tuisveld in Northam met 31-12 geklop het én in die proses vier keer die doelelyn oorgesteek het vir die bonuspunt.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
