Local sportSport

Bosvelders van Northam maak Carltonbeker geskiedenis

Daar is die afgelope naweek geskiedenis gemaak in die Carltonbeker klubrugby-toernooi, toe ’n klub buite die Pretoria streek vir die eerste keer bo aan die punteleer geëindig het na die eerste rondte van die toernooi en sodoende die Lucas Strachan skild ingepalm het.

Geskiedenis is Saterdag op die rugbyveld van Tuine Sportklub gemaak, toe die Northam Rhinos die eerste klub buite die grense van Pretoria geword het om die Lucas Strachan skild te kon inpalm, ná ’n groot oorwinning oor die Grizzlies van Tuine.

Dié gesogte trofee word jaarliks toegeken aan die span wat ná afhandeling van die eerste rondte van die Carltonbeker liga bo-aan die punteleer eindig.

Northam, wat geleë is naby Thabazimbi en deel is van die Limpopo Blou Bulle streek, speel sedert 2019 in die Carltonbeker liga. Hulle het die eerste rondte van vanjaar se toernooi onoorwonne afgesluit met vyf oorwinnings en ’n gelykop uitslag teen ABE Midas Naka Bulle.

Tuine se Grizzlies het die wedstryd baie belowend afgeskop en reeds vroeg die eerste drie van die dag gaan druk. Ná twintig minute se spel en ’n strafdoel aan weerskante was die Grizzlies nog 8-3 voor, toe die Rhinos se skrumskakel en kaptein oorgeduik het vir die eerste van sy uiteindelike drie drieë in die wedstryd.

Tot op daardie stadium het die Grizzlies daain geslaag om Northam voorlangs in toom te hou en die tempo van die wedstryd te bepaal, maar toe die tuisspan dié greep verloor, het Northam amok begin maak.

Teen rustyd was die telling reeds 41-8 in die besoekers se guns en ná twaalf besoeke agter die doellyn het die skeidsregter uiteindelik die eindfluitjie geblaas met die telling op 77-8 in die guns van Northam.

Die Grizzlies het sake vir hulself moeilik gemaak met swak dissipline en nog swakker verdediging, wat aan die Rhinos al die momentum gegee het waarvoor hulle kon vra. Boonop het die skeidsregter, wat ongelukkig ook nie ’n goeie dag beleef het nie, kop verloor en die Grizzlies se frustrasie verhoog met vier geelkaarte. Die wyse waarop hy die vierde en laaste geelkaart ná ’n eenvoudige navraag deur die speler na rooi verander het, het bewys dat hy nie in staat was om koelkop te bly nie. Dit was onnodig kleinlik en lewer ’n negatiewe bydrae tot skeidsregters se beeld, wat reeds tans baie broos onder die publiek is.

* In Groenkloof het ABE Midas Naka Bulle nege drieë ingeryg tydens hul oorwinning van 57-7 teen Pretoria Rugbyklub.

Beide spanne het gewemel van spelers wat òf tans by die Blou Bulle gekontrakteer is, òf voorheen provinsiale rugby gespeel het.

Tony Jantjies, voormalige Bloubul losskakel en broer van die Springbok, Elton, het sy debuut vir die manne van die Moot gemaak, terwyl die Bloubul senter, Diego Appollis, en die voormalige Springbok losvoorspeler, Jacques Potgieter, ook deel was van die span.

Vir Pretoria het huidige Bloubul sterre soos Madosh Tambwe, Marco Jansen van Vuren (wat in sy oorspronklike posisie van skrumskakel gespeel het) en Jaco Labuschagné diens gedoen.

ABE Midas Naka Bulle het hardlooprugby gespeel en die bal hoofsaaklik die werk laat doen, soos die feit getuig dat ses van hul drieë deur die vleuels en heelagter gedruk is.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button