Local sportSport

Naka Bulle maak hul stem dik in Carltonbeker liga

Met die tweede rondte van vanjaar se Carltonbeker liga wat die afgelope naweek afgeskop het, is daar spanne wat vroeër in die seisoen gesukkel het wat nou begin spoed optel, terwyl ander weer lyk of hulle begin uitsak ná goeie vertonings in die eerste rondte.

Ná ’n stadige begin en wisselvallige eerste rondte in vanjaar se Carltonbeker liga het die ABE Midas Naka Bulle Rugbyklub die afgelope naweek gewys dat hulle terug is op volle sterkte en dat die span wat vanjaar sy hand op die beker wil kry, eers by dié manne van die Moot verby sal moet kom.

– Marinus van der Watt se manne het wéér die Charles van Staden trofee behou toe hulle Harlequins op laasgenoemde se tuisveld behoorlik met 60-3 afgestof het.

Hoewel ABE Midas Naka Bulle vroeër vanjaar tydens die eerste rondte van die toernooi ook daarin kon slaag om Harlequins te klop, was Saterdag se slagting eerstens ’n wekroep vir die manne van Groenkloof, terwyl Louis van Biljon en sy makkers gewys het dat hulle terug is op hul allerbeste.

Die wenspan het totale rugby gespeel en tien keer agter die doellyn gaan kuier, terwyl Harlequins uiteraard met een strafdoel tevrede moes wees.

In die proses het ABE Midas Naka Bulle alle aspekte van die spel oorheers en selfs met twee gekontrakteerde Bloubul spelers in hul geledere kon Harlequins nie regtig hond haaraf maak nie.

Die Moot-span se Danny Mokoabane, Kefentse Mahlo en Frans Botha het gewys dat hulle waarskynlik tans die gevaarlikste agterste driehoek in die toernooi is. Veral Botha het klubrugby entoesiaste aan die gons met sy skitternede vorm en Saterdag was die tweede week agtereenvolgens dat die Bloubul kaptein, Arno Botha, se kleinboet ’n gekontrakteerde provinsiale speler as direkte teenstander gehad het én telkens dié tweestryd kon wen.

Die jong Jandré Oberholzer (links) saam met sy trotse pa, Anthony (Kudu) en die Charles van Staden trofee wat ABE Midas Naka Bulle Saterdag teen Harlequins gewen het. Oberholzer het geskiedenis gemaak toe hy as plaasvervanger vir ABE Midas Naka Bulle se eerstes opgedraf het. Daarmee het hy die derde geslag uit die Oberholzer familie geword om Carltonbeker rugby vir dié klub (voorheen Adelaars) te speel. Anthony, deesdae afrigter en bestuurder by die Internasionale Rugby-Instituut, was op sy dag self ’n staatmaker speler by die klub, terwyl sy pa en Jeandré se oupa, Jan Oberholzer, ’n Bloubul legende was wat in meer as 100 wedstryde vir die destydse Noord-Transvaal in die voorry gesak het en jare lank as speler en bestuurslid by Adelaars betrokke was.
Foto: Verskaf

Voorlangs spog ABE Midas Naka Bulle met ’n paar nuwe gesigte wat Saterdag weer gewys het dat hulle sommer gou bekende name in die Carltonliga gaan word.

– Ook in Groenkloof, maar oorkant Totiusstraat op die velde van Pretoria Rugbyklub, het die twee nuwelinge in die liga mekaar aangevat.

Die Grizzlies van Tuine het hierdie taai stryd uiteindelik naelskraaps met 27-26 gewen. Pretoria het egter vier keer gedruk teenoor Tuine se drie drieë, wat beteken dat die tuisspan twee bonuspunte uit die stryd verdien het.

Hoewel Pretoria nog nie ’n oorwinning in die toernooi kon behaal nie, het hulle Saterdag een van hul beter vertonings van die seisoen gelewer en dit is verblydend om te sien dat dié klub voortveg om hulself te laat geld in dié moeilike liga. Hulle het egter volgende naweek ’n harde neut om te kraak, wanneer die voorlopers op die punteleer, Northam se Rhinos, vir hulle in Groenkloof kom kuier.

Die Grizzlies bly ook ’n baie talentvolle span wat die vermoë het om hulself behoorlik te laat geld in hierdie liga, as hulle daarin kan slaag om ’n paar struikelblokke uit te sorteer.

– Die ondersteuners van Centurion sal met reg bekommerd wees oor hul span se vertoning die afgelope naweek in Northam teen die Rhinos, wat die wedstryd op hul tuisveld met 48-19 gewen het.

Die manne uit die suide van Pretoria het vroeg in die seisoen gelyk na die span op te klop in die liga, maar die feit dat die Bosvelders agt drieë teen hulle kon inryg, sal baie vrae laat ontstaan.

’n Ligpunt vir Centurion is dat hulle nooit boedel oorgegee het nie. Terwyl die Rhinos met ’n kwartier speeltyd oor met 48-5 voorgeloop het, het Centurion aanhou veg en nog twee keer gaan druk om die telbord beter te laat lyk.

Die Centurion-manne sal egter deeglik selfondersoek moet doen en sake gou moet regstel as hulle steeds aanspraakmakers op die titel wil wees vanjaar.

 

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button