Local sportSport

Groot oorwinnings vir Tuks en Northam in Carltonbeker toernooi

Die afgelope naweek se Carltonbeker rugby-aksie het weer baie opwinding opgelewer, met meer as 40 drieë in die drie wedstryde wat plaasgevind het.

Terwyl Betway Centurion se teëspoed in die tweede rondte van die Carltonbeker liga voortduur, het drie van die ander vier top spanne op die punteleer – Northam Rhinos, ABE Midas Naka Bulle en Tuks die afgelope naweek almal volpunte verdien vir gerieflike oorwinnings wat hulle behaal het. –  In Centurion het die tuisspan, wat op ’n stadium vroeg in die seisoen die toonaangewende span in die liga was, ’n redelike groot pakslae by Tuks gekry toe die studente hulle met 89-40 geklop het. Centurion het oudergewoonte nie gaan lê nie en hulle het tot die einde geveg in dié wedstryd, maar Tuks het eenvoudig te veel skietgoed gehad. Tot Centurion se krediet het hulle ook op die aanval positief probeer bly teen die energieke studente en daarvoor het hulle ’n bonuspunt verdien deur ses drieë te druk. Tuks het egter amok gemaak deur 13 keer agter die doellyn te gaan kuier. Die studente het die bal oudergewoonte lustig rondgegooi en met ’n hardwerkende pak voorspelers wat vir oorgenoeg balbesit gesorg het, kon die vaardige agterspelers van Tukkies baljaar. Hoewel Centurion se plek onder die top vier – en ’n gevolglike plek in die halfeindrondte – nog nie in gevaar is nie, sal dié span drasties moet verbeter as hulle hoop om enige silwerware in te palm vanjaar. –  In Groenkloof het Northam se Rhinos twaalf keer gaan druk vir hul reuse oorwinning van 74-14 oor die tuisspan, Pretoria. Nadat Northam twee weke gelede die Lucas Strachan skild ingepalm het toe hulle die eerste rondte van die liga bo-aan die punteleer afgesluit het, bou dié span steeds momentum en teen hierdie tempo sal hulle moeilik uit hul eerste plek geboender word.

Pretoria Rugbyklub is nuwelinge wat vanjaar die vergunning gekry het om deel te neem aan die Carltonbeker liga, maar die aanpassing is duidelik nog effens groot. Dié klub se eerstespan moet nog hul eerste oorwinning in die toernooi behaal en die gevaar is altyd daar dat hul beste spelers groener wyvelde kan gaan soek. Tog lyk dit of Pretoria besig is om te bou met ’n groter doelwit vir die toekoms. –  Die ander nuweling in die reeks, Tuine, is behoorlik deur ABE Midas Naka Bulle geroskam, toe laasgenoemde op hul tuisveld in die Moot met 43-26 gewen het. Tog sou enige opbektiewe waarnemer weer die idee kon kry dat die Grizzlies uit die Weste van Pretoria stadig maar seker besig is om hulself te vestig as ’n span wat nie sommer rondgestoot gaan word deur die groter klubs nie. Hoewel ABE Midas Naka Bulle nie hul sterkste span in die veld gestoot het nie, moes hulle alles uithaal om Tuine se Grizzlies se sterte in die tweede helfte te knoop, nadat die rustyd telling nog op 12-9 in die tuisspan se guns gestaan het. Eers na die omdraaislag het ABE Midas Naka Bulle die gate begin vind en vyf van hul sewe drieë is in dié skof gedruk. Vir Tuine het die Bloubul en Springbok agterspeler, Ruan Combrinck, op heelagter uitgedraf. Hoewel hy aanvanklik stillerig vertoon het, het dié nuwe aanwins van die Bulle tog ’n paar keer sy klas en spoed gewys as hy van agter aangeval het. Combrink het na die wedstryd aan Rekord gesê dat hy sy eerste klubwedstryd as Bloubul speler geniet het en hy het groot respek getoon vir die standaard van die spel op dié vlak.  

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button