Local sportSport

Bloubul sterre kuier by ABE Midas Naka Bulle

ABE Midas Naka Bulle het verlede week al hul gekontrakteerde Bloubul spelers onthaal om hulle bekend te stel aan die klub se spelers en die kultuur wat daar heers, terwyl elke speler ook trots kon pronk in sy eie klub trui wat aan hom oorhandig is.

Teen hierdie tyd is dit welbekend dat die bestuur van die Blou Bulle besluit het om spelers wat deel van die unie se professionele span is, in te deel by die sewe Carltonbeker klubs.

Verskeie spelers wat aan die klubs toegewys is, het reeds in amptelike wedstryde in die kleure van hul klubs op die veld verskyn. So byvoorbeeld word die opmerklike wedstrydfiksheid wat manne soos WJ Steenkamp (Tuine), Sipiwe Matanzima (ABE Midas Naka Bulle) en Muller Uys (Tuks) getoon het nadat hulle in Augustus opgetrek is om vir die Curriebekerspan te speel, toegeskryf aan die feit dat hul fiksheid en skerpheid by hul onderskeie klubs in stand gehou is.

Sommige van die heel groot sterre in die Bloubul span is deesdae deel van die ABE Midas Naka Bulle familie in die Moot van Pretoria en die klub se bestuur het verlede week besluit om dié manne tydens ’n spesiale funksie aan hul klub-spanmaats en die kultuur by die klub voor te stel.

Slegs Arno Botha, wat sy vrou bygestaan het met die geboorte van hul eersteling en losskakel Johan Goosen kon nie die funksie bywoon nie.

Die Bulls se flank en kaptein, Marcel Coetzee, het erken dat die skakel tussen klubrugby en die professionele spelers in die verlede ’n probleem was en volgens hom is die Blou Bulle se inisiatief om dié gaping toe te stop ’n briljante skuif waarby die spel oor die algemeen kan baat.

Nog ’n Springbok wat nou deel is van ABE Midas Naka Bulle, Lizo Gqoboka, het vertel hoe hy nooit as skoolseun rugby gespeel het nie en eers na skool aan klubrugby in Durban bekendgestel is. Daarna is hy deur die OP Kings se o.20 keurders nadergetrek en só het hy ’n professionele speler en ’n Springbok geword. Hy is dus ook baie opgewonde oor die nuwe momentum in klubrugby in Pretoria, waar die klubspelers kans kry om hulself aan die professionele manne se standaarde te toets.

Ian Herbst, voorsitter van ABE Midas Naka Bulle, het gesê dit is vir hulle belangrik dat die spelers deel word van die groter rugby familie en nie net binne die geïsoleerde kring van die professionele omgewing beweeg nie.

“Hier by ABE Midas Naka Bulle word hulle deel van die gemeenskap en dít kan op die langer termyn net goed wees vir klubrugby”, het Herbst gesê.

Elke Bloubul speler wat die funksie bygewoon het is bederf met sy eie klub-trui, terwyl hulle ook baadjies van die klub se hoofborg ontvang het. Die professionele spelers het eers saam met die bestuur van die klub en verteenwoordigers van die borg gekuier, waarna hulle minder formeel met hul mede klubspelers kon kuier, terwyl die braaivleis vure hoog gebrand het.

https://fb.watch/7Jvko6NmMV/

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button