Local sportSport

Hengelfees vir gestremdes ten spyte van Covid steeds aangebied

Pretoria se baie gewilde jaarlikse Ramcat Hengelfees vir gestremde hengelaars word binnekort weer in Centurion aangebied.

Dis weer tyd vir die jaarlikse Ramcat Fish hengelfees vir gestremde hengelaars en vanjaar vind dit plaas op Sondag 3 Oktober in Centurion.

Dié unieke hengelfees, wat reeds ’n dekade lank elke jaar in Centurion aangebied word, sal ten spyte van Covid-protokolle, steeds aangebied word.

“Ons kan nie toelaat dat die Covid-krisis hierdie spesiale dag vir ons rolstoel-hengelaars verongeluk nie,” het die hooforganiseerder van die Ramcat Hengelfees, Gerard Smal aan Rekord gesê.

Tog sal die inskrywings vir hierdie fees, wat weer by die dam op die terrein van die Irene Country Lodge aangebied word, ongelukkig beperk word tot net 25 persone. Elke deelnemer is egter volgens die kompetisiereëls steeds geregtig om een helper saam te neem.

Hierdie helpers help die gestremde hengelaars om eerstens met hul visgereedskap by die water uit te kom, asook om die toerusting gereed te kry vir die kompetisie.

Ingeskrewe hengelaars en hul helpers sal vroegoggend voor die aanvang van die kompetisie getrakteer word met koffie en verversings, terwyl ontbyt ook aan almal bedien sal word.

Die fees sal om 07:00 met die amptelike opening begin, en die dag sal om 13:00 met ’n prysuitdeling afgesluit word.

Met die hulp van borge en die harde werk van die organiseerders het dié fees die afgelope paar jaar gegroei tot ’n baie gewilde instelling, wat deur gestremde hengelaars vanoor die hele Gauteng, asook ander provinsies bygewoon word.

Uiteraard sal vanjaar se Ramcat Fish Hengelfees aangebied word binne die reëls van die betrokke vlak van die grendelstaat wat op 3 Oktober geldig is, maar Smal het aan Rekord gesê dat dit steeds ’n baie spesiale ervaring vir alle gestremde hengelaars en hul helpers sal wees. Hy het ook bevestig dat daar oudergewoonte volop pret en vermaak sal wees, terwyl verskeie pryse uitgedeel sal word aan deelnemers en assistente.

Weens beperkings op inskrywings word alle belangstellendes gevra om so gou as moontlik met die organiseerders kontak te maak as hulle in die feestelike geleentheid wil deel.

Om deel te neem, moet belangstellendes so gou moontlik met Smal kontak via epos of telefoon. Skakel Gerard Smal by 081-754-8144 of stuur ’n epos na ystersmal@gmail.com

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button