Ouers, Afriforum vat landloop owerhede vas oor onreg teen atlete
Die ingryping van ouers, afrigters en ‘n regsaksie met die hulp van die burgerregte organisasie, AfriForum, het verskeie jong atlete se droom om vanjaar aan die SA Landloopkampioenskap deel te neem, herstel, nadat hulle aanvanklik weens eensydige regulasies deelname geweier is.
Daar is geen twyfel dat die Covid-19 krisis, wat sedert Maart verlede jaar byna elke aspek van ons lewens verander het, ook in sport ’n destruktiewe rol gespeel het nie.
’n Groep ouers van jong landloop atlete, asook afrigters en ander belanghebbenes, glo egter dat die invloed van die virus onnodig deur atletiek-owerhede by regulasies ten opsigte van deelname aan vanjaar se nasionale landloopkampioenskap ingesleep is om verskeie atlete te verontreg.
Die konflik het begin toe landloop-beamptes van Atletiek Suid-Afrika (ASA), asook provinsiale unies, eerstens besluit het dat die gebruiklike 18 atlete per ouderdomsgroep wat jaarliks vir die SA kampioenskap inskryf, na ses verklein moet word. Dié kampioenskap word eerskomende naweek in Amanzimtoti naby Durban aangebied.
Intussen het ASA nóg slegte nuus vir die landloop gemeenskap gehad. Hulle het ook besluit dat geen atleet onder 17 of ouer as 50 vanjaar vir die nasionale landloopkampioenskap mag inskryf nie.
Hierdie reël sou beteken dat honderde atlete, wat die afgelope twee jaar hard gewerk het om fiks te bly en gereed te wees vir deelname sodra die Covid-regulasies sodanig verslap word, summier weens die ingryping van administrateurs die kans op deelname ontneem word.
’n Groep ouers en die hoofafrigter van ’n atletiekklub in Montana, Pretoria, het egter die bal aan die rol gesit om die regulasie te beveg. Angelique Visser, hoofafrigter van die Souls on Fire Atletiekklub, het saam met ouers van haar atlete ’n amptelike petisie opgestel om ASA se regulasie om te keer. Dié petisie is uiteindelik deur meer as 2000 belanghebbendes geteken.
Intussen het hulle ook hulp gekry van Afriforum se sportafdeling, waar Ronald Peters, bestuurder van sport by dié organisasie, hulle gehelp het om ’n dringende regsaksie van stapel te stuur. ASA is deur ’n prokureursfirma namens die ouers en AfriForum aangespreek oor verskeie tekortkominge in dít wat Peters hul “irrasionele” optrede noem.
Die uiteinde was dat ASA en die provinsiale beheerliggaame moes toegee aan die eis dat atlete vanaf die ouderdom onder-8 eerskomende naweek wel aan die nasionale kampioenskap mag deelneem. Ongelukkig sal dit steeds net geld vir ses atlete per ouderdomsgroep uit elke provinsie.
Peters het aan Rekord gesê dat hulle steeds hierdie week sal probeer om die uitsluiting van atlete ouer as 50 te kanselleer.
Intussen is daar ook ’n plan gemaak om die twaalf teleurgestelde atlete in elke ouderdomsgroep, wat weens ASA se regulasie ook deelname aan die nasionle kampioenskap ontsê is, die geleentheid te gee om wel hul provinsiale kleure te verdien en daarin deel te neem. Met die samewerking van AfriForum is daar reeds met verskeie ander provinsies se landloop owerhede ooreengekom dat ’n spesiale landloop byeenkoms binnekort aangebied sal word waar al hierdie atlete hul kans op deelname sal kry.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
