Local sportSport

Naka Bulle nuwe voorlopers in Carltonbeker toernooi

Na nóg ’n paar groot oorwinnings lyk dit of die fokus van die Carltonbeker liga in die pylvak op pad na die eindstryd in Oktober gaan val op die steeds verbeterende Harlequins se stryd om die top vier spanne in te haal vir ’n plek in die halfeindstryde.

Met die voorloper tot dusver op die punteleer van die Carltonbeker klubrugbytoernooi, Northam Rhinos, wat die afgelope naweek ’n loslootjie kon geniet, het die twee Pretoria-klubs wat in hul nekke blaas, Tuks en ABE Midas Naka Bulle, die kans gebruik om hul posisies te verstewig.

ABE Midas Naka Bulle het die nuwe voorloper geword, toe hulle volpunte teen Betway Centurion gekry het. Dit beteken dat die manne van die Moot nou 40 ligapunte het teen Northam se 36, hoewel hulle een wedstryd meer as die Bosvelders gespeel het.

Tuks, wat net soos Northam nou agt wedstryde afgehandel het, staan op 34 ligapunte in die derde plek.

Intussen het Harlequins (tans steeds vyfde) ook weer ’n stewige oorwinning behaal om hul ligapunte na 21 op te skuif en daarmee nog nader aan Betway Centurion (25) in die vierde plek op die punteleer te kruip.

– In Centurion het ABE Midas Naka Bulle behoorlik wraak geneem vir die pakslae wat hulle vroeër vanjaar in Meimaand tydens die eerste rondte van die kompetisie by die tuisspan, Betway Centurion, gekry het.

ABE Midas Naka Bulle het sewe keer gaan druk om met 43-28 te wen.

Dit was die tuisspan wat eerste toegeslaan het met ’n drie deur die groot buitesenter Kevin Osborne, ná een van sy kraglopies.

Louis van Biljon en sy spanmaats het egter kort daarna gewys dat hulle van plan is om ook drieë te druk en ’n bonuspunt in Centurion te gaan haal. Die vierde drie om die bonuspunt te verseker het toe reeds na ’n halfuur se spel gekom en teen rustyd was ABE Midas Naka Bulle reeds met 33-14 voor, nadat die tuisspan se glibberige regtervleuel, Ashwill Botha, kort voor die breuk hul tweede drie gaan druk het.

Centurion het nooit opgegee nie en veral toe hul teenstanders vroeg in die tweede helfte weens ’n rooikaart tot 14 man verklein is, het hulle met ’n terugvegpoging die verskil in die telling laat krimp. Die ligapunt wat Centurion met hul vier drieë verdien het, kan later in die kompetisie goud werd wees.

– In die Weste van Pretoria het Harlequins hul puik spel van verlede week opgevolg met nóg ’n kliniese vertoning teen die Grizzlies van Tuine.

Quins het tien drieë ingeryg vir ’n reuse oorwinning van 76-8 teen die tuisspan.

Die Grizzlies se grootste swakplek, hul gebrekkige verdediging, het hulle weer duur te staan gekom teen ’n span wat op ’n missie is om hul seisoen om te keer.

Die Blokkiestruie van Groenkloof spog waarskynlik tans met die gevaarlikste agterlyn in die toernooi en dié manne was op hul stukke teen die Grizzlies, met heelagter Connor Mahoney (5 drieë), regetrvleuel Werner Schoeman (3 drieë) en binnesenter  Marquit September een drie, wat groot skade aangerig het.

– Op die Tuks sportkampus het die studente so byna die eerste honderdtal van die seisoen aangeteken, toe hulle vyftien keer agter die doellyn gaan kuier het vir ’n reuse oorwinning van 97-8 oor die sukkelende span van Pretoria Rugbyklub.

Nico Luus se manne het gewys dat hulle nie sommer sonder ’n geveg as Carltonbeker kampioen onttroon gaan word nie. Dié span moes na hul sukses in die Varsitybeker toernooi hergroepeer en het stadig begin in die Carltonbekerreeks, maar sal soos gewonlik moeilik geklop word in die pylvak van die kompetisie.

Aan die ander kant het Pretoria eenvoudig nie die diepte van die top klubs nie, maar dié klub sal hopelik mettertyd versterkings kan inkry soos die aansien van die liga en klubrugby se gewildheid toeneem.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button