Katrolle sing weer by Ramcat Fish se hengelfees, ten spyte van Covid-stremming
Hoewel die Covid-krisis wel beperkings op die jaarlikse Ramcat Fish Hengelfees vir gestremde hengelaars geplaas het, kon dit tog weer die afgelope naweek in Centurion met sukses aangebied word.
Dis algemene kennis dat hengel wêreldwyd ’n baie gewilde sportsoort is wat kompeterend én ook slegs vir ontspanning beoefen word.
Dit is ’n sportsoort vir almal. Mans en vroue – selfs die hele gesin – kan deelneem. Ramcat Fish het egter die afgelope dekade met hul hengelfeeste vir gestremde persone bewys dat hengel ook aan mense in rolstoele die geleentheid bied om in die buitelug langs die viswater te ontspan en selfs kompeterend deel te neem aan dié gewilde sportsoort.
Gerard (Yster) Smal en sy span ontsien al vir ’n dekade lank elke jaar geen moeite om hul Ramcat Hengelfees vir gestremde persone ’n baie uitsonderlike ondervinding vir deelnemers, hul helpers én ander gaste te maak nie.
Vanjaar was geen uitsondering nie en ten spyte van die uitdagings en beperkings van die Covid krisis het Smal weer die bul by die horings gepak om die hengelfees moontlik te maak.
Die fees is oudergewoonte by die Irene Coutry Lodge in Centurion aangebied, waar die fasiliteite rondom die oord se dam uiters geskik is vir rolstoel gebruikers, met geplaveide paadjies wat aan hulle maklike toegang tot by die oewer gee.
Nadat reënweer vroeër tydens die naweek vir nat toestande in Centurion gesorg het, kon die heneglaars by die Ramcat Fish hengelfees Sondag in heerlike sonskyn langs die dam kuier.
Daar is oudergewoonte ’n meerderheid babers van verskillende grootte uitgetrek. Dié katvisse is weer in spesiale tenks geplaas om later na damme in die Krokodilrivier-gebied verplaas te word.
Liefdadigheidsorganisasies soos die Suid-Afrikaanse Legioen en die Round Table was betrokke by die aanbieding van die dag en daar is gehelp met aspekte soos die weeg van al die vis wat uitgetrek is en die braai van wors vir die heerlike boereworsbroodjies wat deel was van die middagete.
Yster Smal, hooforganiseerder van die Ramcat Fish hengelfees, het aan Rekord gesê dat die Covid krisis beslis ’n faktor was wanneer daar na inskrywings gekyk word. Volgens hom is die fees se struktuur egter aanpasbaar en, terwyl daar vanjaar ’n proefneming in dié verband gemaak is, sal daar ook in die troekoms gepoog word om ’n aantal kinders by die verrigtinge te betrek.
In hierdie geval gaan dit nie noodwendig oor gestremdheid nie, maar daar is wel ’n behoefte om die Ramcat Hengelfees as ’n uitstappie-geleentheid uit te brei vir kinders wat andersins nie noodwendig aan soortgelyke geleenthede blootgestel word nie.
Vir navrae of ondersteuning aan Ramcat Fish kan Smal geskakel word by 081-754-8144 of stuur ’n epos na ystersmal@gmail.com
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.











