Halfeind kandidate lyk gevestig in Carltonbeker toernooi
Terwyl die permutasies suggureer dat Harlequins nog ’n buitekans het om die Carltonbeker halfeindrondte te haal, lyk dit egter of die vier top spanne vir die uitspeelrondtes nou reeds voorspel kan word.
Met twee weke se ligabepalings wat oorbly in die Carltonbeker klubrugby toernooi, lyk dit of die vier kandidate vir die halfeindstryde reeds bepaal is.
Ten minste drie spanne, ABE Midas Naka Bulle (tans die voorloper op die punteleer), Tuks (tweede) en Northam se Rhinos (derde) is reeds verseker van hul plekke in die halfeindstryde, wat op 23 Oktober gespeel sal word.
Teoreties het Harlequins (tans vyfde) nog ’n kans om Betway Centurion (tans vierde) op die punteleer verby te steek. Dié kans is egter baie klein en boonop is hul lot nie net in hul eie hande nie. Hoewel die twee spanne in die laaste ligabepaling van die seisoen oor twee weke op Harlequins se veld teen mekaar sal speel, moet Quins boonop hoop dat Tuine se Grizzlies eerskomende naweek ’n reuse haas uit die hoed pluk en vir ’n verrassing sorg deur Betway Centurion te klop én boonop te sorg dat hulle nie meer as een bonuspunt verdien nie.
Teorie en praktyk is egter twee verskillende dinge en hoewel vreemde scenarios al in die verlede gerealiseer het, is Quins se kanse baie skraal en ’n mens kan byna aanvaar dat Betway Centurion die vierde span in die halfeindstryde sal wees. Trouens, Betway Centurion kan teoreties selfs derde eindig, maar dan sal Northam albei hul laatse wedstryde teen Tuks en Tuine moet verloor.
Wat die twee top posisies betref, dít sal waarskynlik in die laaste ligabepalings op 16 Oktober bepaal word wanneer ABE Midas Naka Bulle en Tuks mekaar pak, tensy Northam se Rhinos eerskomende naweek hul toertjie van die eerste rondte herhaal en Tuks klop. Dít is gladnie ’n vergesogte gedagte nie, aangesien Tuks na die Rhinos se tuiste in die Bosveld moet reis, waar laasgenoemde ’n uitstekende rekord het.
– Die manne van die Moot, wat eerskomede naweek ’n loslootjie het, het vanjaar nog net een keer verloor toe Betway Centurion hulle vroeg in die seisoen geklop het. Hulle het egter teen beide Tuks en Northam gelykop gespeel in die eerste rondte en die afgelope naweek het hulle ’n kliphade en spannende wedstryd op hul tuisveld teen die Bosvelders met 28-22 gewen.
ABE Midas Naka Bulle moes sonder die dienste van hul gereelde kaptein, Louis van Biljon, klaarkom, maar onder leiding van haker Theuns Reynolds het die tuisspan dit reggekry om Northam se groot pak voorspelers in die tweede helfte te tem. Almal het hul deel gedoen, maar dit was veral die skitterspel en verdediging van ABE Midas Naka Bulle se lostrio, Eckard Boshoff, Jacques Bodenstein en JP Alberts wat deurslaggewend was.
Agterlangs het die groot senter, Johan Grobler, die Bosvelders laat bontstaan met sy kraglopies, terwyl Tony Janjies op losskakel weer ’n afgeronde vertoning gelewer en gewys het hoeveel waarde hy toevoeg op dié sleutelposisie.
– Tuks het Harlequins se drome van ’n plek in die halfeindstryd op Loftus Versveld (weens Varsity Sokker op hul tuisveld) gekou met ’n reuse oorwinning van 53-21. Die studente, wat ná hul Varsitybeker glorie stadig begin het in die Carltonbeker toernooi, het gewys dat hulle terug is op hul allerbeste en nie sommer maklik van hul troon as Carltonbeker kampioen gestamp gaan word nie.
– In Centurion het die tuisspan hul posisie verstewig deur die Carltonbeker nuweling en agteros op die punteleer, Pretoria, met 62-31 te karnuffel.
Centurion het sprankelrugby gespeel en tien drieë ingeryg, maar afrigter Riaan Brand sal beslis nie gelukkig wees oor die feit dat sy span ook vier drieë afgestaan het nie. Verdediging is waarskynlik Centurion se grootste kopseer en die rede waarom hulle ’n negatiewe punteverskil op die punteleer het, terwyl dit die een aspek is wat in die uitspeelfase hul ondergang kan versnel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




