Northam Rhinos klop Tuks wéér
Die Northam Rhinos het die afgelope naweek met ’n verrassende vertoning teen Tukkies gesorg dat klubrugby liefhebbers tot na eerskomende naweek se heel laaste ligawedstryde sal moet wag om te weet watter spanne mekaar in die halfeindrondte van dié gesogte toernooi gaan pak.
Die Northam Rhinos het vir die tweede keer in vanjaar se Carltonbeker klubrugbytoernooi op ’n kritieke tydperk sake deurmekaar gekrap op die punteleer toe hulle die afgelope naweek verras het met hul tweede oorwinning in een seisoen teen Tukkies.
Net toe dit lyk of Nico Luus se Tuks-span behoorlik momentum begin kry op pad na die halfeindstryd, moes hulle Saterdag Northam toe reis, waar hulle wéér teen die Rhinos vasgeval het.
Hierdie uitslag én die feit dat Northam vier keer kon gaan druk vir die bonuspunt, beteken dat die Bosvelders nou terug is in die wedloop om dalk bo aan die punteleer te eindig ná volgende week se laaste ligabepalings voor die halfeindstryde.
Northam het ook aan die einde van die eerste rondte teen Tuks verras en tóé Centurion se drome verydel om die Lucas Strachan-skild te wen, nadat daar reeds algemeen aanvaar is dat dié gesogte skild vanjaar in die manne uit die suide van Pretoria se trofeekas gaan pronk.
Terwyl Tuks en ABE Midas Naka Bulle eerskomende naweek in ’n titaniese stryd gewikkel gaan wees in hul laaste ligawedstryd, behoort die Rhinos van Northam weer volpunte te kry, aangesien hulle teen die Grizzlies van Tuine te staan kom. Hoewel die Grizzlies vanjaar bewys het dat hulle hul man kan staan in die Carltonbeker liga, sal dit ’n reuse verrassing wees as hulle daarin kan slaag om Northam te klop.
Tuks se nederlaag teen Northam beteken waarskynlik dat hulle nie meer in die eerste plek op die punteleer kan eindig nie. Slegs as die Grizzlies die Rhinos kan skok, sal so-iets vir Tuks moontlik wees, maar dan moet hulle ook eers die omgekrapte span van ABE Naka Bulle klop.
– Op hul tuisveld in die Bosveld het Northam vier keer teen Tuks gaan druk om met 27-21 te wen. Die studente het self net drie keer gaan druk, wat beteken dat hulle slegs een bonuspunt uit die stryd verdien het.
Die wedstryd was regdeur in die weegskaal met die tuisspan wat ook teen rustyd met 12-7 voorgeloop het. Hoewel sake baie spannend geëindig het, kon die Bosvelders vasbyt en Tuks in die laaste paar minute van die doellyn weghou om geskiedenis te maak met hul oorwinning.
– In die weste van Pretoria het Centurion verseker dat hulle vir die halfeindrondte kwalifiseer deur Tuine met 36-26 te verslaan. Hul laaste wedstryd eerskomende naweek teen Harlequins sal dus van akademiese belang wees en Centurion se bestuur kry eintlik die geleentheid om dalk ’n paar proefnemings te maak.
Ná ’n effense insinking in die middelste deel van die seisoen lyk dit of Centurion stadig maar seker weer besig is om momentum te bou en die vorm terug te vind wat hulle vroeg in die seisoen na ’n moontlike eindstryd kandidaat laat lyk het.
Op hierdie stadium lyk dit na ’n voldwonge feit dat Centurion in die halfeindrondte teen die top span op die punteleer gaan speel. Riaan Brand se manne kan egter nooit afgeskryf word nie en as hulle onderskat word, kan Centurion dalk wel nog in ’n eindstryd betrokke wees.
– Pretoria Rugbyklub het die afgelope naweek hul seisoen afgesluit ná ’n moeilike eerste seisoen terug in die Carltonbeker liga. Harlequins het hulle met 34-3 gewen en in die proses ses keer gaan druk, terwyl hul bure van oorkant Totiusstraat slegs met ’n strafdoel kon slaag.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


