Bobbies-legendes kuier saam en vereer beroemde atleet
In ’n jaar waartydens die Olimpiese Spele en die Britse en Ierse Leeus rugbytoer albei plaasgevind het, het ’n groep sportlegendes van die oud Pretoria Polisie Rugbyklub verlede week bymekaargekom om twee verwante gebeurtenisse uit die verlede te herdenk.
Die Pretoria Polisie Rugbyklub is deesdae dormant en die rugbyvelde en -fasiliteite by die Pretoria Polisiekollege, waar van die wêreld se grootste rugbylegendes oor dekades heen bloed en sweet geoffer het vir dié eens beroemde klub, is vervalle.
Vir baie is dit ’n hartseer saak, maar die hedendaagse bestuur van dié kollege voel blykbaar vere vir die één sportsoort wat darm nog sukses aan Suid-Afrika se internasionale beeld koppel.
Vir baie van die oud spelers van die Pretoria Polisie Rugbyklub bly net nostalgie en goeie herinneringe oor en hiervan was daar in oorvloed toe ’n groep oud Bobbies verlede week in die Gusto Restaurant in Rietfontein bymekaargekom het om twee besondere geleenthede te herdenk.
Met die pas afgelope Olimpiese Spele in Tokio, asook die onlangse toer van die Britse en Ierse Leeus in gedagte, het een van die groot geeste van die Pretoria Polisie Rugbyklub, Katmuis Conradie, dié funksie gereël. Eerstens om een van Suid-Afrika se beste atlete van alle tye, Gert Potgieter, se atletiekloopbaan te herdenk en die tweede rede hou verband met die Britse en Ierse Leeus.
Potgieter, ’n Springbok atleet wat die wêreldrekord houer in die 440 tree (400m) hekkies item in die laat 1950’s was, is weens omstandigehde twee keer verhoed om ’n Olimpiese medalje te wen. In 1956 was hy in die eindrondte in die derde posisie toe hy oor die laaste hekkie gestruikel het en uiteindelik met die sesde plek tevrede moes wees.
In 1960 was Potgieter die gunsteling om die goue medalje in Rome te wen, maar hy is ernstig beseer in ’n motorongeluk in Duitsland slegs twee weke voor die Olimpiese Spele.
’n Feit was nie algemeen bekend is nie, is dat Potgieter eerstens ’n polisieman was en dat hy in 1956 en 1957 in ses wedstryde vir die Ligbloues op senter uitgedraf het. Verskeie kenners glo vandag nog dat Potgieter dubbel Springbokkleure sou verwerf het as sy rugbyloopbaan nie in 1957 ontydig kortgeknip was deur ’n ernstige nekbesering nie.
’n Spesiale trofee is tydens die funksie aan Potgieter oorhandig om sy sportloopbaan te herdenk.
Conradie en die organiseerders van die funskie het ook gepoog om so veel as moontlik van die sewe lede van die Pretoria Polisie Rugbyklub wat in 1974 vir die destydse Noord-Transvaal teen die Britse Leeus van Willie-John McBride gespeel het, bymekaar te bring.
Vyf van dié manne kon uiteindelik die funksie bywoon. Die Springbok slot, Mouner van Heerden, kon dit nie maak nie, terwyl die heelagter, Chris Luther, reeds oorlede is.
Die spelers van Polisie wat in daardie wedstryd op 6 Julie 1974 gespeel het en wel by die funksie opgedaag het, is die senter Kobie Kidson, vleuel Hennie Jacobs, losskakel Vic Booyens, flank Giel Eloff en agtsteman, Chris Oosthuisen.
Sowat twintig sterre van die Pretoria Polisie Rugbyklub uit verskillende eras het saam gekuier en daar is weer heerlik gesels oor die ou dae, soos net rugby-manne dit kan doen.
Die Bobbies van Pretoria mag dalk vandag vir sommiges net ’n herinnering uit ’n vorige era wees, maar die manne wat die geel en blou streeptrui van dié klub vir dekades lank oor die kop getrek het, weet met trots dat min ander rugbyklubs by hulle kon kers vashou as dit kom by hul bydrae aan rugby in Bloubul land.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







