Local sportSport

Kan Naka Bulle gestuit word op pad na Carltonbeker glorie?

Hoewel ABE Midas Naka Bulle ná hul vertonings van die afgelope maand die gunsteling behoort te wees om vanjaar vir die eerste keer in hul geskiedenis die Carltonbeker te wen, kan enigiets eerskomende naweek in die halfeindstryde gebeur en enigeen van die vier kandidate kan nog as kampioen gekroon word.

Nadat ABE Midas Naka Bulle sedert 25 September in hul laaste drie ligawedstryde al drie die ander kandidate in eerskomende naweek se Carltonbeker halfeindstryde oortuigend geklop het, móét dié klub uit die Moot van Pretoria die gunsteling wees om vanjaar as kampioen van hierdie gesogte toernooi gekroon te word.

Marinus van der Watt se manne het Saterdag waarskynlik hul grootste oorwinning ooit teen Tukkies behaal toe hulle sewe drieë ingeryg het om die studente uiteindelik met 51-28 te klop.

ABE Midas Naka Bulle het met hierdie oorwinning gewys dat hulle gereed is vir die uitspeelfase en dat die groot trofee waarna hul ondersteuners al jare smag, waarskynlik nog nooit só bereikbaar was vir dié span nie.

Trouens, sedert ABE Midas Naka Bulle se voorganger, Adelaar, in 1962 gestig is ná die samevoeging van die Innesdal rugbyklub en dele van ander klubs, was dié gesogte beker die Moot se mense nog nooit beskore nie.

Sedert Van der Watt enkele jare gelede die leisels as Direkteur van Rugby by die klub oorgeneem het, het, het ABE Midas Naka Bulle verskeie hoogtepunte beleef. Hulle het die destydse Assupol-toernooi gewen, skitterende gevaar in interprovinsiale klubreekse, deelgeneem aan die nasionale Gouebeker klubtoernooi én ’n paar keer net-net nie daarin geslaag om die Carltonbeker te verower nie.

ABE Midas Naka Bulle moet egter nog oor twee hekkies kom en hulle sal ’n reuse fout maak om Centurion eerskomende naweek in die halfeindstryd te onderskat. Dis immers die enigste span wat hulle vanjaar nog in die toernooi kon klop.

Harlequins se puntemakers tydens hul oorwinning oor Centurion. Van links is losskakel Hendrik Mulder, heelagter Connor Mahoney en agtsteman Gerhard Coetzee.
Foto: Johanna de Vos

– Betway Centurion se wisselvalligheid was vanjaar hul grootste struikelblok, maar dié span van Riaan Brand het die vermoë om enige ander span in die kompetisie te klop.

Halfeindstryde is boonop ’n eenmalige geleentheid en enigiets is moontlik.

Die uitslag van Betway Centurion se laaste ligabepaling teen Harlequins, wat Saterdag met 34-33 deur die span van Groenkloof gewen is, kan ook nie as maatstaf vir Betway Centurion se vermoë geneem word nie. Dié span kon nie werklik iets aan hul lot op die punteleer verander met ’n oorwinning nie.

Boonop het Harlequins die seisoen skitterende afgesluit met ’n paar puik vertonings en hulle het gewys dat hulle tans die vermoë het om enige van die top vier te klop. Juis daarom sal Betway Centurion moed skep uit die feit dat hulle een drie meer as hul teenstanders gedruk het, wat beteken dat die skopvoet van Quins se losskakel, Hendrik Mulder, die verskil tussen die twee spanne was.

Betway Centurion wen lynstaanbesit in hul Carltonbeker wedstryd teen Harlequins op laasgenoemde se tuisveld in Groenkloof.
Foto: Johanna de Vos

– Hoewel die Northam Rhinos hul tweede plek op die punteleer – én dus ’n tuis halfeindstryd – verseker het met hul oorwinning van 43-18 die afgelope naweek oor Tuine se Grizzlies, het laasgenoemde wéér bewys dat hulle in dié strawwe liga kan kompeteer.

Die manne uit Pretoria se Weste het drie keer gaan druk (teenoor die tuisspan se sewe) en hul man redelik goed gestaan teen Northam, wat vanjaar onoorwonne was op hul tuisveld in die Bosveld.

Die Rhinos sal nou hul lippe aflek vir hul halfeindstryd teen Tuks, nadat hulle die enigste span was wat die studente vanjaar twee keer kon klop.

Die manne wat geld op hierdie wedstryde wil verwed moet egter nie die fout maak om Nico Luus se studente te onderskat nie. Tuks se grootste probleem vanjaar is waarskynlik die feit dat hulle ná hul sukses in die Varsitybeker toernooi nie behoorlik kon spanbou nie.

Daar is egter geen twyfel dat Tuks, as dinge die slag vir hulle reg verloop, wel in staat is om hul titel as Carltonbeker kampioen suksesvol te verdedig nie.

 

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button