Naka Bulle en Northam Rhinos pak mekaar in historiese Carltonbeker eindstryd
Eerskomende Saterdag word die Carltonbeker klubrugby eindstryd op Loftus Versfeld beslis tussen twee spanne waarvan nie een nog ooit dié gesogte trofee kon wen nie.
Klubrugby geskiedenis word eerskomende naweek in die Carltonbeker eindstryd gemaak, nadat ABE Midas Naka Bulle en die Northam Rhinos deurgedring het om mekaar in dié wedstryd te pak vir die bepaling van die nuwe kampioen.
Ja, die gesogte Carltonbeker ’n nuwe baas, aangesien die houer van die trofee, Tuks, nie die eindstryd kon haal nie. Tweedens sal dit die eerste keer ooit wees dat ’n span uit die Blou Bulle se Limpopo streek (voorheen Verre Noord Unie) in ’n eindstryd speel. En derdens sal die wenner van die eindstryd die eerste keer ooit die Carltonbeker kampioen wees, ongeag watter span seëvier.
As bonus sal hierdie historiese eindstryd – wat op Loftus Versfeld beslis sal word – boonop ook die eerste keer ooit direk op die SABC-TV uitgesaai word.
– ABE Midas Naka Bulle het hul halfeindstryd op hul tuisveld in die Moot teen Betway Centurion redelik maklik met 47-26 gewen om deur te dring na die eindstryd.
Die grondslag vir hierdie oorwinning is weer gelê deur die harde werk van ABE Midas Naka Bulle se goed-gedrilde pak voorspelers. Hulle het Betway Centurion in die vaste fasette oorheers, met die gevolg dat die besoekers in die eerste helfte grootliks moes verdedig.
Betway Centurion het gesukkel om momentum op te bou, veral weens die tuisspan se lynstaanspel, waar hulle baie besit omgekeer het.
ABE Midas Naka Bulle het van die begin af met groot selfvertroue gespeel en in die eerste helfte vier skitter-drieë gedruk om met rustyd reeds 29-0 voor te loop.
Die lastige wind wat regdeur die wedstryd gewaai het, was in die tweede helfte in Betway Centurion se blaaie en hulle het dít goed gebruik om hul strategie te verander – veral toe ABE Midas Naka Bulle meer moes skop om gebiedsvoordeel te probeer kry.
Riaan Brand se manne het ook die regte taktiek gebruik deur die tempo van die spel op te jaag en toe hulle vroeg in die tweede skof kort na mekaar met goeie aanvallende spel gaan druk, wou dit lyk of hulle kon terugkom in die wedstryd. Hulle het die groot senter, Kevin Osborne, goed gebruik om die voordeellyn aan te val en daarvandaan die bal vinnig wyd te versprei.
ABE Midas Naka Bulle het egter koelkop gebly en die telbrd aan die gang gehou met strafdoele deur losskakel Danny Mokoabane. Dít het Betway Centurion angstig gemaak, wat tot onnodige foute gelei het en die tuisspan kon dié situasie uitbuit deur self nog twee keer te druk.
Die manne uit Pretoria se suide het die tweede helfte op die tebord oorheers, maar kon uiteindelik nie genoeg doen om hul teenstanders van die Moot in te haal nie.
ABE Midas Naka Bulle is duidelik ’n goed afgerigte span wat hul beste kans ooit het om vanjaar die Carltonbeker kampioen te word. ’n Mens wil ook nie graag spelers uitsonder nie, maar enigiemand wat dié wedstryd gesien het sal saamstem dat die jong rooikop slot, JP Albetrs, ’n reuse wedstryd gespeel het.
– Op Northam se tuisveld in die Bosveld het die Rhinos ’n baie besondere prestasie behaal deur vir die derde keer in een seisoen met Tuks af te reken toe hulle die studente met 28-14 in die ander Carltonbeker halfeindstryd geklop het.
Baie kenners het verwag dat Tuks se bestuur ’n paar hase uit die hoed sal pluk om tog vir die eindstryd te kwalifiseer. Teen rustyd was sake basies gelyk en daar is algemeen verwag dat die studente die krane sou begin oopdraai in die tweede helfte.
Die Bosvelders het egter hul strategie teen rustyd effens aangepas en die Varsitybeker kampioen in die laaste skof voorlangs versmoor met hul groot pak voorspelers. Dit het die gevolg gehad dat Tuks se gevaarlike agterlyn min besit gekry het, terwyl die tuisspan die oorwinning kon beklink met nog twee drieë.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







