Local sportSport

Voortrekkermonument Halfmarathon vier padatlete se terugkeer na amptelike wedlope

Die lang wag vir die lang asems is verby, want vir die eerste keer in meer as 18 maande sal Pretorianers binnekort weer aan ’n georganiseerde padwedloop kan deelneem wanneer die Voortrekkermonument Halfmarathon op die laaste Saterdag van November aangebied word.

Goeie nuus vir padatlete wat uitgehoner is vir deelname en die samesyn van ’n uitdagende halfmarathon – die Voortrekker Monument Halfmarathon is terug, nadat dit verlede jaar weens Covid-regulasies in die slag gebly het.

Die wedloop sal plaasvind op Saterdag 27 November op die terrein van die Voortrekkermonument.

Hierdie wedloop word vanjaar vir die derde keer aangebied en het sy ontstaan te danke aan die Voortrekkermonument se 80 jarige feesvieringe wat in 2018 gevier is.  Die wedloop is inderdaad vanh=jaar ’n geskiedkundige gebeurtenis, want dit sal die eerste amptelike padwedloop wees wat na die uitbreek van die COVID-19 pandemie in Pretoria aangebied word.

Die organiseerders gaan oudergewoonte uit hul pad om die deelnemers te trakteer op ‘n uitsekende dog uitdagende roete wat weereens beloof om ‘n besonderse hardloop ervaring te wees.

Deelnemers kan met volkome gemoedsrus vir die wedloop aantree met die wete dat daar aan al die COVID-19 regulasies voldoen word.

Voornemende deelnemers moet voor die tyd aanlyn inskryf by www.entryninja.com en daar sal nie op die dag van die wedloop ingeskryf kan word nie. Voorafinskrywings sluit op 21 November.

Die verrigtinge begin om sesuur die oggend en die volledige wedloop, wegspring en eindpunt ingesluit, sal binne die terrein van die Voortrekkermonument en Natuurreservaat aangebied word. Daar word ook ‘n 10km wedloop en pretdraf aangebied wat soos die halfmarathon voor die trappe van die Voortrekkermonument wegspring.

Inskrywingskoste vir die halfmarathon, 10 kilometer wedloop en 5 kilometer pretdraf beloop onderskeidelik R 120, R100 en R50. Atlete wat nie geregistreer is nie sal ook ‘n tydelike lisensie ten bedrag van R40 moet bekom.

Voornemende deelnemers word aangemoedig om so gou as moontlik in te skryf, aangesien inskrywings vir beide die halfmarathon en die 10 kilometer wedloop beperk word tot 1000 deelnemers.

Die roete sluit van Pretoria se bekendste landmerke in. Buiten vir die feit dat atlete vir die grootste deel van die wedloop die Voortrekkermonument in sig sal hê, neem die roete atlete verby die Muur van Herinnering, die Erfenissentrum, Fort Schanskop, die Danie Theron standbeeld en die Amfiteater.

Die roete is grotendeels op die teer en geplaveide paaie rondom die monument, terwyl trappe van die amfiteater ook op die spyskaart is. Die roete is gewis uitdagend, maar deelnemers word getrakteer met ‘n asemrowende uitsig oor die hoofstad, asook die ryk natuurlewe binne die Natuurreservaat se grense.            

Die Voortrekkermonument Halfmarathon word georganiseer deur die Voortrekkermonument Draf- en Stapklub wat in die verlede wedlope soos die Springbok Vasbyt, Ou Voetpad en die Muller Potgietergedenkwedloop met reuse onderskeiding aangebied het. Die wedloop word met trots geborg deur BECS Services, wat spesialiseer in omgewingsimpakstudies, omgewingsbestuurstudies, aansoeke van mynregte, prospekteer regte en mynpermitte, asook rehabilitasie- en sluitingsplanne.

Die Voortrekkermonument Draf- en Stapklub en BECS Services het hierdie wedloop reeds gevestig as die eerste omgewingsvriendelike wedloop in Pretoria. Dit beteken dat daar met die gebruiklike watersakkies weggedoen word om die negatiewe impak op die omgewing te beperk. Voornemende deelnemers word versoek om hulle eie bottels na die wedloop saam te bring. Daar sal watertenks by die beginpunt en op die roete wees waar bottels hervul sal kan word.

Vir navrae, skakel Alexander Hattingh by 083-415-8016.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button