Local sportSport

Naka Bulle se Carltonbeker sukses ook hoofafrigter se triomf

Die triomf van die Naka Bulle rugbyklub in vanjaar se Carltonbeker toernooi was ook ’n klimaks in die loopbaan van hul deurwinterde hoofafrigter, wat wéét hoe dit voel om eers deur die rugby-meuele te gaan voor sukses uiteindelik vir hom saam met dié klub beskore was.

Die onlangse verowering van die Carltonbeker klubrugby trofee deur die Naka Bulle Rugbyklub was baie meer as net ’n koue statistiek wat iewers in die geskiedenisboeke aangeteken sal word.

Vir die gemeenskap van die Moot en veral vir al die oud spelers wat oor die afgelope 60 seisoene hul rugby daar “op die klippe” gespeel het – soos daar oor die jare soms na die velde van dié klub teen die suidelike hang van die Magaliesberg verwys is – was dit amper ’n heilige oomblik.

Een man het hierdie oorwinning egter as ’n reuse persoonlike triomf ervaar. Vir Marinus van der Watt, hoofafrigter van ABE Midas Naka Bulle en Direkteur van Afrigting by die Internasionale Rugby Instituut (IRI), wat op die klub se perseel bedryf word, was dit die klimaks op ’n baie ontstuimige wipwaentjie rit van ses jaar. Dit was die bevestiging dat hy deur jare van wroeging en twyfel tog die regte keuses gemaak het om eerder die moeilike pad te loop, sodat hy homself die kans kan gee om sy droom te jaag as rugby afrigter en -mentor.

Van der Watt is ’n Pretorianer in murg en been en dit was juis as jong seuntjie in Laerskool Derdepoot noord-oos van die stad dat hy reeds gewys het dat hy anders as die res dink en droom. Toe ’n onderwysers eendag vir haar klas vra wat hulle eendag wou word, het klein Marinus nie soos die res gedroom oor ’n lewe as brandweerman, dokter of ingenieur nie. “Juffrou, ek gaan ’n professionele rugby-afrigter word,” was sy antwoord.

Hoewel Van der Watt in sy hoërskooljare aan Hoërskool Montana en later in sy weermagdae ’n baie bruikbare skrumskakel was, het hy steeds nie drome van glorie gedroom as rugbyspeler nie. Hy het net gewéét dat sy roeping lê by dinge soos die ontleding van die spel, die opsporing van jong talentvolle spelers en die satisfaksie wat ’n goeie afrigter kry as hy sukses behaal met ’n span rugbyspelers wat hy as vyftien uiteenlopende individue kan laat saamwerk om hul teenstanders te oorrompel.

Hy het as hoërskoolseun reeds sy passie begin uitleef deur by sy ou laerskool te begin afrig. Daarna het hy al die nodige kursusse voltooi en kwalifikasies behaal om homself voor te berei.

Marinus van der Watt, hoofafrigter van ABE Midas Naka Bulle en Direkteur van Afrigting by die Internasionale Rugby Instituut saam met sy vennoot by dié instituut, Anthony (Koedoe) Oberholzer, wat ook in beheer is van die klub se o.20 spanne.
Foto: Johanna de Vos

Vandag kan Van der Watt spog met ’n CV waarby bittermin hoëprofiel afrigters kan kers vashou. Hy is waarskynlik die enigste afrigter in Suid-Afrika wat op elke moontlike vlak – van vyfjarige voorskool-seuntjies in Bulletjierugby tot by SuperRugby – afgerig het.

Hy was betrokke by hoërskoolspanne, terwyl hy jare lank studente by Tukkies afgerig het en onder andere in 2008 dié universiteit se eerste Varsitybeker veldtog moes lei.

In 2009 was hy betrokke by die Curriebeker span van SWD in George en in 2016 het Nollis Marais hom as vaardigheidsafrigter by die Bulle se SuperRugby span betrek. Dan is hy ook ’n sewesrugby kenner, wat die Blou Bulle se sewesrugby span al tot drie agtereenvolgende nasionale titels gebrei het.

Van der Watt se internasionale ondervinding sluit in sy betrokkenheid as konsultant by die Duitse nasionale span.

Sy groot passie lê egter by die vestiging van strukture en die ontwikkeling van spelers. Miskien is dít waarom hierdie verowering van die Carltonbeker saam met ABE Midas Naka Bulle so ’n reuse persoonlike triomf vir hom was.  Hy het immers al hierdie mylpaal bereik met drie titels by Tukkies – twee keer as hoofafrigter en een keer as Pote Human se assistent. Maar hierdie keer was dit anders, want ses jaar gelede was ABE Midas Naka Bulle ’n sukkelende klub wat onder aan die Carltonbeker punteleer geboer het.

Van der Watt is egter skugter om té veel krediet te neem vir die sukses van 2021. Hy het groot lof vir die bydrae van sy hulpafrigters soos Gary Botha, Naas Rossouw en Morné Human, terwyl bestuurslede en borge soos Ian Hebst, André Potgieter, Tinus Joubert en Buks Burger volgens hom almal onmisbare ratte in die enjin is wat hierdie span aandryf.

Die fondament van die klub se huidige status as superklub in Pretoria is gelê deur die vestiging van die Internasionale Rugby Instituut, wat hy saam met sy oorlede vriend, Neels Grobler, begin het en saam met vennote soos Anthony (Koedoe) Oberholzer en Ian Herbst opgebou het. Die kurrikulum van die intituut is sy eie breinkind, maar vergelyk goed met die beste wat enige rugby-akademie oor die wêreld heen kan bied.

* Intussen vorder die Internasionale Rugby Instituut (IRI) fluks met hul beplanning vir 2022, ná reuse sukses met studente oor die afgelope ses jaar. Suksesvolle studente van dié instituut speel deesdae provinsiale rugby by verskeie spanne reg oor Suid-Afrika, terwyl ander geleenthede oorsee gekry het en nog ander speel klubrugby vir byna elke groot klub in Pretoria.

Van der Watt het juis op die ironie gewys dat sommige lede van hul Carltonbeker eindstryd opponente, die Northam Rhinos, se span voormalige studente van die IRI was.

Die IRI se jaarlikse gholfdag vind volgende week op 26 November plaas en ouers van spelers of enige belangstellendes wat deel wil wees van die gholfdag of wat belangstel om spelers by die instituut in te skryf, kan Van der Watt skakel by 079-880-8604.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button