Naka Bulle se “ou manne” vier saam fees ná Carltonbeker triomf
Ná ABE Midas Naka Bulle se verowering van die Carltonbeker het verskeie oud spelers van dié klub verlede week bymekaargekom om dié geskiedkundige gebeurtenis te vier en om weer die lekker ou dae van klubrugby te herleef.
Rugby was nog altyd ’n ernstige saak vir die mense van Pretoria se Moot.
Sedert die Adelaar Sportunie, waaronder die Adelaar rugbyklub geaffilieer was, in 1962 tot stand gekom het, het dié klub top spelers en baie goeie spanne opgelewer.
As ’n mens net dink aan manne uit dié klub wat vir die destydse Noord-Transvaal uitgedraf het, is daar name soos Louis Luyt (ja, dié Louis Luyt wat later die koning van Ellispark en president van SA Rugby geword het), Gerhard de Haas, Hennie du Rand, Gerrie Gericke, Jan Oberholzer, Johan Spies, Ross van Reenen, Kallie Knoetze, Jamie Prinsloo, Frans van Heerden, Theuns Koekemoer, Gerrit Mong, Koos Gouws, Chris Blignaut en Fanie Lombard.
Die klub het ook ’n horde legendes opgelewer wat nooit die geleentheid gehad het om provinsiale rugby te speel nie òf wat die Ligbloues se B-span verteenwoordig het in die dae toe daar nog op dié vlak verteenwoordigende rugby was.
Dan was daar nog die Naka Bulle-era van die afgelope 22 jaar, wat klub-legendes soos Nollis Marais, Stefan Smit, Luga van Biljon en andere opgelewer het.
Om een of ander duistere rede kon die klub egter nooit Carltonbeker sukses behaal nie, ten spyte van die feit dat hulle soms op gereelde grondslag met top klubs soos Tukkies, Polisie, Harlequins, Pretoria en ander afgereken het.
Dit was juis oor hierdie goeie ou dae én dinge soos rugby toere binne Suid-Afrika én na die buiteland – waar daar uiteraard oor die jare ook baie legendes en stories gebore is – waaroor die groep “ou manne” kon gesels tydens ’n spesiale funksie wat verlede week op die klubterrein aangebied is.
Die klub se jarelange bestuurder, Buks Burger, het dié braaivleis geleentheid gereël en sommer ook die Carltonbeker saamgebring, sodat die manne ’n paar foto’s kon neem met die gesogte trofee wat hulle in hul speeldae ontwyk het.
Wat kan dan lekkerder wees vir ware rugby-manne as om ’n paar limonades saam te geniet en dan te kuier en oor die dae te gesels toe hulle self nog die krag, spoed en ratsheid gehad het om die spel te speel.
Daar was spelers teenwoordig uit verskillende eras en, soos dit maar gaan met sulke funksies, is daar behoorlik geskerts oor al die ou herinneringe wat op- én van die veld af plaasgevind het in die dae toe die manne nog vir die liefde vir die spel en die samesyn van rugbyvriende deel was van klubrugby.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
