Local sportSport

Naka Bulle vereer spelers ná sukses van 2021

Spelers en administrateurs van die ABE Midas Naka Bulle rugbyklub het verlede Vrydag die sukses van 2021 gevier tydens die klub se jaarlikse toekenningsgeleentheid.

Sal ABE Midas Naka Bulle binnekort die sukses van 2021 kan ewenaar of selfs oortref? Enigiets is seker moontlik, maar dit sal bitter moeilik gaan.

Dít is die gedagtes wat by ’n mens opgekom het tydens Vrydagaand se luisterryke toekenningsgeleentheid, toe die klub se presteerders van 2021 welverdiend vereer is.

Hoe verbeter ’n mens op ’n eerstespan wat die Carltonbeker verower het, ’n tweedespan wat hul liga gewen het sonder om ’n enkele wedstryd deur die seisoen te verloor en ’n o.20 span wat die halfeindrondte van hul liga gehaal het, waar hulle net-net deur Tuks geklop is.

Daarbenewens het die klub se o.20 groep agt spelers opgelewer wat vir provinsiale spanne uitgedraf het.

Ja, natuurlik kan dit nog beter, maar as die groei in aansien en standaard van klubrugby in Pretoria in aanmerking geneem word, sal dit moeilik wees om die prestasies van 2021 te verbeter.

Die klub het hul sukses gevier deur hul toekenningsgeleentheid in ’n groot tent op die klubterrein aan te bied.

Behalwe vir die trofees wat aan spelers, afrigters en spanne uitgedeel is na hul prestasies van die afgelope seisoen, is daar ook spesiale moeite gedoen, sodat spelers en administrateurs hierdie seisoen nog lank sal onthou. So byvoorbeeld is spesiaal-gemaakte miniatuur rugbytruitjies aan spelers oorhandig, wat ’n baie kosbare aandenking sal wees in die jare wat kom.

Wynbottels, waarop statistiek en die name van die span, asook die bestuur op ’n spesiale etiket gedruk is, is ook aan spelers en bestuurslede van die eerstespan oorhandig.

Die klub het ook aan die vroue en meisies van spelers en administrateurs hulde gebring vir hul ondersteuning deur aan elkeen ’n reuse protea te oorhandig.

Hoewel dit op hierdie stadium nie lyk of die klub enige noemenswaardige spelersverliese sal hê in 2022 nie, was die hartseer deel van die toekenningsgeleentheid toe daar afskeid geneem moes word van die klub se legendariese kaptein en losvoorspeler, Louis (Luga) van Biljon, wat eersdaags vir ’n onbepaalde tyd na Europa vetrek.

Van Biljon, wat nie net by ABE Midas Naka Bulle nie, maar oor die algemeen in klubrugby in Pretoria diep spore getrap het, is ook welverdiend aangewys as die klub se Sportman van die Jaar – die hoogste eerbewys wat ’n speler kan ontvang.

Die woelige slot, JP Alberts, en die sterk senter, Juan Nel, deel die prys as ABE Midas Naka Bulle se Speler van die Jaar.

Vir ’n volledige lys van pryswenners, lees die berig op Rekord se webwerf by https://www.citizen.co.za/rekord/

 

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button