Silver Valke nooi skoolverlaters om klubrugby te speel
Die Silver Valke Rugbyklub beplan nou reeds vir ’n heropbou proses in 2022 en die klub is tans besig om spelers, afrigters en administrateurs te werf om vroeg in die nuwe jaar met voorbereiding te begin.
Dit is geen geheim dat amateur- en klubrugby in Pretoria tans ’n reuse opbloei beleef nie.
Vir die eerste keer in jare groei klubrugby in Pretoria veral op o.20 vlak, en verskeie spelers uit die o.20 klubrugby geledere van Bloubul klubs het die afgelope paar seisoene geleenthede gekry om junior provinsiale rugby te speel vir unies soos die Pumas en die Valke.
Klubrugby op o.20 vlak onder jurisdiksie van die Bloubul Rugby-unie (BBRU) het verlede jaar twee ligas bedryf, wat ’n bewys is dat al hoe meer skoolverlaters by rugby op klubvlak betrokke raak.
Na ‘n baie beter 2021 seisoen waarin die Silver Valke se senior span in ‘n halfeindstryd in hul liga betrokke was, glo die bestuur van dié klub in Silverton dat dinge volgende jaar selfs beter kan gaan.
Die klub wil in 2022 ook weer tot die o.20 liga toetree, nadat die Covid-krisis organisering van ’n junior span die afgelope seisoen in die wiele gery het.
Om hierdie rede nooi die Silver Valke skoolverlaters en jong spelers wat in 2022 nie ouer as 20 jaar sal wees nie, om by hul geledere aan te sluit in Roestoffstraat 220, Silverton.
Die bestuur glo dat hulle met die vestiging van ’n top o.20 span later ook weer hul senior span sal kan voed, wat die Silver Valke kan help in hul heropbou proses. Dié klub het weens verskeie redes ’n paar moeilike seisoene agter die blad, maar streef daarna om terug te keer na hul gloriedae toe die Silver Valke ’n krag in die Carltonbeker liga was.
Senior spelers, afrigters en administrateurs wat op soek is na ’n nuwe uitdaging is ook welkom om by die Silver Valke aan te sluit. Voorseisoen oefeninge sal vroeg in Januarie begin.
Belangstellendes kan die voorsitter van die Silver Valke, Henry van Wyk, by 083-466-9016 skakel vir meer besonderhede.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
