Noordelikes rugby klub terug met ’n knal
Die Noordelikes rugbyklub word vanjaar 75 en planne is gereed om die klub vanjaar weer sy regmatige plek as 'n krag in die Bloubul klubrugby gemeenskap te laat inneem
Die Noordelikes rugbyklub word vanjaar 75 en groot planne word gesmee om nie net dié geleentheid op spoggerige wyse te vier nie, maar ook om die klub op die veld vanjaar weer tot ’n krag in Bloubul klubrugby op te bou. Een van die voormalige voorsitters van Noordelikes, Jan du Toit, is reeds in beheer van ’n komitee wat die feesjaar se bedrywighede van die veld af sal beplan en bestuur. Du Toit glo die gemeenskap van die noorde van Pretoria sal hulle ondersteun en hy nooi ook alle oud spelers, afrigters en administrateurs om met hom kontak te maak indien hulle belangstel om te help of te ondersteun. Intussen het die bestuur van die klub gereorganiseer en daar is planne in plek om Noordelikes vanjaar weer in volle glorie te laat herleef. Die jarelange voorsitter en Bloubul legende, Pote Fourie, is die klub se nuwe president, terwyl nog ’n veteraan in klubrugby, Johan Beukes, die nuwe voorsitter is. Martin Koekemoer, wat voorheen met groot sukses by die Brits klub afgerig het, is as hoofafrigter aangestel. Hy was ook betrokke by een van die Blou Bulle se streekspanne.

Foto: Koos Venter
Beukes het aan Rekord gesê die klub het reeds ten minste twee senior spanne vir die Blou Bulle se Presidentsliga ingeskryf, terwyl daar ook ’n o.20 span vir een van die Bulle se o.20 klubligas ingeskryf sal word as daar genoeg belangstelling van jonger spelers is. Twee vriendskaplike wedstryde teen Bronkhorstspruit (weg op 19 Februarie) en Silver Valke (tuis op 26 Februarie) is reeds bepaal. Noordelikes se Jeugklub vir skole-ouderdom spelers sal ook vanjaar herleef. Intussen het Koekemoer aan Rekord gesê dat hy groot planne het vir Noordelikes en hy maak geen geheim daarvan dat sy mikpunt is om vanjaar ten minste die halfeindrondte van die Presidentslilga te haal nie. “My styl is inklusief en ek beplan om ’n afrigtingspan te kies wat by al die senior spanne betrokke sal wees. Vir my gaan dit oor die proses en ek glo dat die afrigtingsgroep by ’n klub soos Noordelikes met al die spelers moet werk,” het Koekemoer gesê. Volgens hom glo hy daaraan dat die klub die trots van die gemeenskap moet wees en hy is van plan om hierdie doelwit te bereik. Die klub het reeds op Dinsdag 18 Januarie begin oefen en oefeninge sal vir eers plaasvind op Dinsdae en Donderdae vanaf 18:30 tot 20:00. Alle beslangstellende spelers word genooi om aan te sluit. Die adres is 338, Jopie Fouriestraat. Vir navrae oor die klub kan Johan Beukes gekontak word by 079-247-0501. Navrae oor die planne rondom die 75sste verjaardagfees kan gedoen word deur Jan du Toit te skakel by 083-325-3302.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
