Garsies se prestige byeenkoms gee voorskou wat skole-atletiekseisoen kan oplewer
Verskeie skittervertonings, ten spyte van reën op die skool se grasbaan, het gesorg vir agt nuwe rekords in Vrydag se Abrie van Staden Prestige atletiekbyeenkoms, wat oudergewoonte deur Hoërskool Garsfontein aangebied is.
Ná twee lang jare sonder veel aksie op die sportveld op skolevlak kan daar geen twyfel wees dat deelnemers én toeskouers daarvoor uitgehonger is nie.
Hierdie feit was duidelik tydens Vrydagaand se 23ste Abrie van Staden Prestige atletiekbyeenkoms, wat vanjaar op die sportterrein van Hoërskool Garsfontein aangebied is.
Hoewel die byeenkoms redelik vroeg reeds deur ’n hewige reënbui onderbreek is en laataand deur selfs méér reën kortgeknip moes word, het dit nie die entoesiasme op die baan of op die paviljoen gedemp nie. Die reën het uiteindelik slegs enkele aflos-items in die slag laat bly.
Garsfontein was oudergewoonte weer die gasheer vir die byeenkoms, terwyl top atletiekskole soos Hoërskool Montana, Hoërskool Oos-Moot, Hoërskool Overkruin, Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg en Helpmekaar Kollege van Johannesburg die ander deelnemers was. Eersgenoemde twee skole is saam met die Garsies deel van Pretoria se A-bond atletiekskole, terwyl EG Jansen en Helpmekaar albei top skole onderskeidelik aan die Oos-Rand en in Johannesburg is.
Ten spyte van ’n nat grasbaan is sewe van die agt nuwe byeenkomsrekords in baanitems aangeteken. Hiervan was Armand van der Walt van Helpmekaar Kollege se tyd van 10,32 in die 100m vir seuns o.17 waarskynlik die indrukwekkendste. Hy het ook die 200m vir seuns o.17 met ‘n skittertyd van 21.99 gewen.
In die middelafstande het Montana se atlete weer hul staal gewys met puik vertonings.
Kaylen Niemann (dogters o.14) se tyd van 2:18,59 in die 800m was ook ’n nuwe rekord, terwyl nog ’n Montie, Izandri Jacobz, ’n nuwe rekord opgestel het in die 800m vir dogters o.16 met haar tyd van 2:16,41. Jacobz se tweede rekordtyd van die byeenkoms was in die 1500m, wat sy in 04:44,75 afgelê het.
Waarskynlik die merkwaardigste vertoning van die byeenkoms in die velditems het gekom van Garsfontein se Brian Raats in die hoogspring item vir seuns o.19. Ongelukkig vir dié opkomende ster-atleet het dit begin reën kort voor sy eerste sprong in dié item, wat die laaste velditem van die dag sou wees.
Raats het egter geweier om sy ondersteuners teleur te stel en hy het die dwarslat in gietende reën aangedurf. Hoewel hy nie ’n nuwe rekordhoogte kon behaal nie, was sy 2.10m in die reën werklik besonders.
In die ander velditems het die vonke veral in die gewigstoot- en diskus items gespat met ’n paar puik vertonings. Tiaan Stevens (seuns o.15) van Montana het uitgestaan met sy 16,58m in die gewigstoot en 57,07m in die diskus.
Overkruin se Tiaan Stols (seuns o.17) het die ysterbal 18,84m ver gestoot, terwyl sy 53,45m in die diskus ook uitstaande was.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.









