Local sportSport

Oud vroue-bokser van Pretoria wil Everest oorwin

’n Voormalige professionele vroue-bokser van Pretoria vlieg binnekort na Suid-Asië om die wêreld se hoogste bergpiek aan te durf.

Dis nie bekend of ’n gebore en getoë Pretorianer al ooit die grootste uitdaging vir enige bergklimmer suksesvol afgehandel het nie, maar die kans is goed dat ’n gewese professionele vroue-bokser van Tuine in Pretoria binnekort op daardie eer aanspraak sal kan maak.

Liz Butler, ’n fiksheidsdeskundige van Pretoria is besig met haar finale voorbereiding om op 1 Maart vanjaar na Nepal te vertrek, vanwaar sy haar pelgrimstog na Mount Everest sal aanpak.

Dié vreeslose vrou het bekendheid verwerf as een van Suid-Afrika se beste vroue-boksers. Tussen 2011 en 2015 het sy agt keer as professionele bokser in die kryt geklim en net twee keer met punte verloor. Sy spog egter met drie uitklophoue in die gevegte wat sy gewen het.

Deesdae hou sy haar besig as bestuurder en persoonlike afrigter in die gimnasium wat sy op die terrein van die Hoër Tegniese Skool Tuine in die weste van Pretoria bestuur.

Butler, wat in die omgewing grootgeword het en aan die Hoërskool Tuine gematrikuleer het, leef haar passie uit deur veral ook met skoolkinders te werk en aan hulle die geleentheid te bied om hulself in die gimnasium voor te berei vir watter doel hulle ookal daar betrokke raak.

Sy was nog altyd ’n fiksheidsmaniak en is haar hele beroepsloopbaan al betrokke in dié bedryf. Behalwe vir die boks is sy ook die afgelope 20 jaar al ’n toegewyde atleet, wat veral veldwedlope (Trailrunning) as haar gunsteling atletiek item beskou.

Butler is baie ernstig oor haar geloof as Christen. Dis iets wat sy met haar oorlede ma gedeel het en ná haar ma se afsterwe vroeg verlede jaar het sy ’n geestelike verdieping in haar lewe gevoel. Sy het egter ook gevoel dat sy ’n uitdaging moet aanpak om afsluiting en berusting te kry ná die gebeure, wat haar laat besluit het om die hoogste bergpiek in Afrika, Kilimanjaro in Tanzanië, te gaan aandurf.

Dié uitdaging het sy in Junie verlede jaar met sukses aangepak en nou staan daar boonop ’n getekende vlag met haar gimnasium se logo op die kruin van Kilimanjaro.

Met haar terugkeer na Suid-Afrika het ’n groep skoolkinders wat in haar gimnasium oefen, haar met ’n nuwe uitdaging gekonfronteer. Soos sy hulle gereeld uitdaag om nuwe doelwitte te stel, het hulle aan haar die uitdaging gemaak om haar Kilimanjaro avontuur op te volg met ’n poging om Mount Everest baas te raak.

Butler is nie iemand wat terugstaan vir ’n uitdaging nie en die wiel is dadelik aan die rol gesit met reëlings en oefening.

Haar eerste poging in November verlede jaar het egter weens ’n logistieke misverstand in groot teleurstelling geëindig, toe sy weens Covid-maatreëls nie toegelaat is om ’n vlug via die Midde-Ooste na Nepal te haal nie.  Butler moes eers die probleme uitskakel, maar kon gelukkig reël dat haar reeds betaalde vliegkaartjie na die nuwe datum in Maart verskuif word.

Intussen is die reëlings haarfyn beplan en Butler verwag hierdie keer geen probleme nie. Sy vlieg op 1 Maart om haar geskiedkundige avontuur aan te durf. Daarna sal sy vir 10 dae in isolasie wees, waarna die klim-ekspedisie met die hulp van gidse op 12 Maart sal begin.

Deesdae oefen Bulter basies daagliks om fikser en sterker te word vir die uitdaging. Saam met haar oefenmaats, Cariena Ackerman en die boksafrigter, Sechaba Maboya, pak sy gereeld die Magaliesberg aan op ’n roete tussen die Weste van Pretoria en Hartbeespoortdam met ’n swaar rugsak op die rug.

Butler sê sy voel besonder geseën weens al die hulp en ondersteuning wat sy reeds ontvang van vriende en familie, asook enkele borge. Enige ander hulp met borgskappe is welkom om met haar in verbinding te tree by 060-993-1051.

 

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button