Baanbreker rugbyadministrateur Robert Denton oorlede
Die legendariese rugby-administrateur, Robert Denton, is verlede week op die ouderdom van 81 in Pretoira oorlede, nadat hy lank met swak gesondheid gesukkel het.
Met die afstewe van Robert Denton verlede week op die ouderdom van 81, kry ’n mens weer die kans om hulde te bring aan hom en die revolusionêre rol wat hy gespeel het in rugby-administrasie.
As eerste voltydse sekretaris en later bestuurder van die destydse Noord-Transvaalse Rugbyunie is hy al beskryf as verbeeldingryk, ondernemend en dinamies. Miskien word hy die beste beskryf as die baanbreker wat die bestuur en administrasie van Suid-Afrikaanse rugby aan die moderne era voorgestel het.
Robert Roger Denton is op 11 Maart 1940 in die Thabazimbi bosveld gebore. Na matriek aan die Hoërskool Rustenburg is hy Pretoria toe om met ’n onderwysbeurs eers aan die Normaalkollege en later aan die Universiteit van Pretoria te studeer. Behalwe vir sy Onderwysdiploma het hy ook die grade BCom en B-Admin behaal.
Op universiteit het hy vir Tukkies op slot gesak. Kompetisie vir dié posisie in die Ligblouspan was egter straf en, hoewel hy talle kere as reisende reserwe deel van die span was, het hy nooit kans gekry om vir Noord-Transvaal uit te draf nie.
Hy het wel vir Noordelike Universiteite, SA Universiteite en die Kwagga Barbarians gespeel.
Na sy studies het Denton by ’n Engelse skool in Johannesburg begin skoolhou, waar hy hom as sokkerafrigter en –skeidsregter bekwaam het. Met sy terugkeer na Pretoria as rekeningkunde onderwyser by die Hoërskool Hercules het hy ’n tyd lank vir Harlequins uitgedraf, voordat hy die eerste voltydse rugby-organiseerder in die sportkantoor van Tukkies geword het. Daar het sy roemryke loopbaan as rugbyadministrateur begin.
In 1971 word hy die heel eerste voltydse sekretaris van die Noord-Transvaalse Rugbyunie. Vir die volgende elf jaar sou hy ’n gedugte trio vorm saam met die unie se president, prof. Fritz Eloff en die legendariese afrigter, brig. Buurman van Zyl. In hul gesamentlike era het Noord-Transvaal rugby in Suid-Afrika oorheers. Daarvan getuig die nege Curriebeker titels (twee gedeel) tussen 1971 en 1981.

Foto: Koos Venter
Onder Denton se leiding is Loftus Versfeld sedert 1972 stelselmatig ontwikkel van ’n byna primitiewe stadion tot een van die mees modernste in die land. Hy en prof. Eloff het destyds saam met ’n ingenieur en ’n argitek na Amerika en Japan gereis om na moderne tendense by sportstadions te gaan kyk. In San Francisco het hy vir die eerste keer privaat losies in ’n Amerikaanse voetbalstadion gesien en net daar het hy besef dat dít deel van die toekoms moet wees van die nuwe Loftus Versfeld waaroor hy gedroom het.
Denton was baie trots dat Loftus se hoofpaviljoen, wat in 1977 ingehuldig is, die eerste in Suid-Afrika was wat met privaat losies, ’n onthaalsaal en moderne mediageriewe gespog het. Die belangrikste prestasie was dat dié imposante paviljoen, net soos al drie die ander wat later gevolg het om die hedendaagse Loftus Versfeld te vorm, kontant gebou is.
Saam met die inhuldiging van Loftus se nuwe hoofpaviljoen het die unie die heel eerste wêreldspan ooit na Suid-Afrika gebring om in ’n toets teen die Springbokke te speel.
Later, toe hy in die middel tagtigerjare die algemene bestuurder van die Transvaalse Rugbyunie en ook besturende direkteur van Ellispark was, het hy die kommersiële sukses van sokker op rugbystadions bewys. Hy was ook die heel eerste organiseerder van musiekkonserte in ’n groot sportstadion. Dan was daar nog groot bokstoernooie op Loftus Versveld en Ellispark en selfs gholftoernooie met bowwe in die paviljoene en putjies op die rugbyveld, wat die wêreld verstom het.
In 1986 het Denton ook saam met dr. Louis Luyt ’n deurslaggewende rol gespeel om die toer van die Nieu-Seeland Kavaliers moontlik te maak. Dié toer het rugby as kommersiële produk gevestig en ’n groot rol gespeel om die spel tien jaar later openlik professioneel te maak.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
